In die digitale wêreld van GPS, selfoon toepassings en karterings programme is die goedige papier kaart gerelegeer tot die agterste gestoeltes. Die nuwe tegnologie kan vir jou met die druk van ‘n knoppie afstand, reistyd en verskeie ander inligting eensklaps beskikbaar stel, sodat jy jou reis tot in die fynste detail kan beplan. Tog, as daai selfoon of GPS se battery die gees gee is dit die ou betroubare papier kaart wat jou uit die panarrie gaan red.
Soos met koerante, boeke en tydskrifte is daar ‘n bekoring daaraan om die régte papier kaart in jou hande te hou. Dit voel meer, eg. Iemand het eendag gesê ‘n GPS wys waar jy is. ‘n Kaart wys wat om jou is.
Daar is niks soos ‘n regte kaart om ‘n avontuur aan die gang te sit nie. Met ‘n GPS en / of karterings programme tik jy ‘n ligging of ‘n naam in, met ander woorde jy weet reeds daarvan, maar ‘n regte avontuur lê selde in die bekende. Op ‘n kaart sien jy ander dinge raak. Soos jou oog dwaal sien jy ook die onbekende dinge. Dinge wat jou prikkel om te gaan kyk. Wat presies is dan nou by Toorwater, byvoorbeeld. Kyk hierdie pad, Nooitgedagt. Kan dit die pad in die liedjie wees? Het jy al gehoor van Zoar? Kom ons gaan kyk! En skielik bevind jy jou by ‘n warmwaterbron, ‘n spoorweg sylyn waar Paljas verfilm is, ‘n asemrowende poort, ‘n prag pad tussen Canola lande deur of voor ‘n besonderse Lutherse kerk. Dit sou jy nie met die GPS gekry het nie, tensy jy reeds daarvan geweet het, natuurlik. ‘n Afdraai naby Swellendam met die naam Vaandrigsdrif het ‘n avontuur ontketen wat my verby Botlierskop in die Suid Kaap tot by Katot Meyer in De Vlugt geneem het.
Daar is mense wat ‘n veerpyltjie na ‘n kaart gooi en waar hy land, dis die bestemming. Probeer dit nou met ‘n GPS…
Die beste dinge in die lewe is die mense vir wie jy lief is, die plekke wat mens sien en die herinneringe wat jy maak. Lank lewe die papierkaart. Gaan loer bietjie watse avonture wag.
Artikel: Johann van Tonder Foto: Brian Cheyne









Die 2023 Hyundai Staria Lounge Camper, as hy by sy doopname genoem word, bied sit- en slaap plek vir 4 mense. Die agtersitplek vou plat om ‘n bed te vorm en die dak vou elektronies op sodat mens regop in die bussie kan staan. Vanaand met slaaptyd vou ‘n basis in die voudak af, wat slaapplek bied vir nog twee kleiner mense of kinders. Daar is ‘n 36-liter yskas, ‘n stort en ja, ook ‘n wasbak! Water word aanboord voorsien met die Staria wat toegerus is met twee tenks van 40L en 70L. ‘n Oulike tafel kan agter uit vou vir daai piekniek langs die water en as jy bekommerd is of die battery gaan hou, die Camper kan ook aan ‘n eksterne kragbron gekoppel word. As ESKOM werk.



Die nuwe Meyers Manx 2.0 prototipe is pas bekend gestel en anders as die ID Buggy wat Volkswagen self gebou het, is die Meyers Manx 2.0 bestem vir vol produksie. Die nuwe voertuig word nie op die onderstel van ‘n ander voertuig gebou nie, maar is ‘n voertuig in eie reg, ontwerp deur Freeman Thomas wat ook die Audi TT en nuwe VW Beetle ontwerp het.Daar is tans twee battery opsies, 20kWh en 40kWh, met ‘n reikafstand van tussen 240 en 500km. Die syfer klink optimisties, maar as mens in ag neem dat die twee modelle onderskeidelik slegs 680kg en 750kg weeg, kan mens dink dat dit dalk moontlik mag wees. Die Meyers Manx 2.0 word aangedryf deur twee elektriese motors agter en die 40kWH weergawe kan versnel van 0 tot 100km/h in 4,5 sekondes!
Daar is geen deure of ruite nie en die dak kan af, maar hy sal dan by die huis gelos moet word. Daar is ‘n bagasie ruim agter, maar soos die voertuig kan dit nie sluit nie. Daar is ook ‘n bagasie ruim voor wat die spaarwiel en enkele gereedskap huisves.Soos met die eerste prototipe Duinebesies van die jare Sestig, gaan 50 eenhede gebou word in 2023 en aan mense uitgegee word vir navorsing in regte-wêreld toestande. Produksie sal dan begin in 2024. Daar is nog nie aanduiding van pryse nie, maar dis ‘n klein voertuig met ‘n klein battery, so hopelik sal dit redelik bekostigbaar wees sover dit elektriese voertuie aangaan. Dis onbekend of die Meyers Manx 2.0 buite Kalifornië beskikbaar sal wees.



