Chery se Sewe nou beskikbaar

0
271

Sedert Chery in November 2021 sy hertoetrede tot die Suid-Afrikaanse mark gemaak het, het die maatskappy se reeks en handelaarsnetwerk gegroei, en ‘n derde modelreeks is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Tiggo 7 Pro vul die gaping tussen die Tiggo 4 Pro, die eerste modelreeks wat hier bekendgestel is, en die huidige vlagskip van die reeks, die Tiggo 8 Pro. Die Tiggo 7 Pro volg Chery se huidige ontwerprigting; die vooraansig beskik oor ‘n seshoekige sierrooster met die Chery-embleem aan die bokant een dun kopligte wat van om die hoeke van die voorkant krul. Aan die kant is daar 18-duim allooiwiele en ‘n karakterlyn wat agter die agterdeure na boontoe loop terwyl verdonkerde glas standaard toerusting is. Die agterligsamestelling strek oor die hele breedte van die agterklap, en die Chery-naam is net onder die agterruit uitgespel. Daar is ook ‘n drukvlerk op die dak, asook twee uitlaatpype in die agterstamper. Die kombinasie maak vir ‘n besonderse aantreklike voertuig.

Net een enjin en ratkas is beskikbaar. Die turboaangejaagde viersilinderenjin van 1,5 liter word aan ‘n palwissel (CVT)-ratkas met nege stappe en ses gange in handratmodus gekoppel. Hierdie enjin lewer 108 kW en wringkrag van 210 Nm.

Daar is twee modelle in die reeks, naamlik die Distinctive en die Executive. Albei modelle is goed toegerus, en spog onder meer met die volgende kenmerke: ‘n elektriese bestuurdersitplek met ses verstellings, ‘n veelfunksiestuurwiel wat met leer oorgetrek is en op vier maniere verstel kan word en sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie. Daar is drie digitale vertoonpanele; voor die bestuurder is ‘n digitale instrumentepaneel met verskillende verstellings wat alle inligting oor die voertuig in ligte en donker toestande so duidelik as moontlik vertoon. In die middel van die voorpaneel is die inligting-en-vermaakstelsel wat onder meer ‘n klankstelsel met Android Auto, Apple Car Play en Bluetooth, asook ‘n trukamera bevat. Daar is twee USB-kragpunte voor en een agter. Die inligting-en-vermaakstelsel kan ook deur middel van stemopdragte beheer word. Die derde skerm bevat die kontroles vir die klimaatbeheer wat standaard toerusting vir albei modelle is. Dit kan gebruik word met fisiese kontroles wat dit vir die bestuurder moontlik maak om die klimaatbeheerstelsel te gebruik sonder om sy of haar oë van die pad af te haal. Atmosfeerbeligting en ‘n koordlose selfoonlaaier is ook standaard toerusting vir die hele reeks, terwyl die Executive met ‘n panoramiese sondak en elektriese verstelling vir die voorste passasiersitplek toegerus word. Swart leerbekleedsel met kontrasterende stikwerk word vir albei modelle gebruik.

Die hele reeks spog met veiligheidskenmerke soos skryfremme op al vier wiele, met die voorstes wat geventileer is, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, wegtrek- en afdraandehulp, ‘n blindekolmonitor en ‘n agterste dwarsverkeermonitor. Die Executive voeg die volgende kenmerke by: voorbotswaarskuwing, ‘n baandwaalmonitor, outomatiese noodremhulp en ‘n 360 grade rondomkamera met ‘n grafiese beeld van die verkeer wanneer ‘n kruising binnegegaan word. Die Distinctive word met vier lugsakke toegerus en die Executive met ses. Al die modelle word toegerus met ‘n funksie wat deure en vensters met afstandbeheer sluit, asook ‘n elektriese agterklap waarvan die hoogte verstel kan word. Die Tiggo 7 Pro het volpunte in die Chinese NCAP-toetsprogram behaal.

Die pryse van die verskillende modelle is R 409 900 vir die Distinctive en R 449 900 vir die Executive. Dit sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000 km en padbystand van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerlesing. Eerste-kopers kry selfs ‘n enjinwaarborg van tien jaar of ‘n miljoen kilometer!

Artikel: Gerrie Smit