Viva die Papierkaart

0
223

In die digitale wêreld van GPS, selfoon toepassings en karterings programme is die goedige papier kaart gerelegeer tot die agterste gestoeltes. Die nuwe tegnologie kan vir jou met die druk van ‘n knoppie afstand, reistyd en verskeie ander inligting eensklaps beskikbaar stel, sodat jy jou reis tot in die fynste detail kan beplan. Tog, as daai selfoon of GPS se battery die gees gee is dit die ou betroubare papier kaart wat jou uit die panarrie gaan red.

Soos met koerante, boeke en tydskrifte is daar ‘n bekoring daaraan om die régte papier kaart in jou hande te hou. Dit voel meer, eg. Iemand het eendag gesê ‘n GPS wys waar jy is. ‘n Kaart wys wat om jou is.

Daar is niks soos ‘n regte kaart om ‘n avontuur aan die gang te sit nie. Met ‘n GPS en / of karterings programme tik jy ‘n ligging of ‘n naam in, met ander woorde jy weet reeds daarvan, maar ‘n regte avontuur lê selde in die bekende. Op ‘n kaart sien jy ander dinge raak. Soos jou oog dwaal sien jy ook die onbekende dinge. Dinge wat jou prikkel om te gaan kyk. Wat presies is dan nou by Toorwater, byvoorbeeld. Kyk hierdie pad, Nooitgedagt. Kan dit die pad in die liedjie wees? Het jy al gehoor van Zoar? Kom ons gaan kyk! En skielik bevind jy jou by ‘n warmwaterbron, ‘n spoorweg sylyn waar Paljas verfilm is, ‘n asemrowende poort, ‘n prag pad tussen Canola lande deur of voor ‘n besonderse Lutherse kerk. Dit sou jy nie met die GPS gekry het nie, tensy jy reeds daarvan geweet het, natuurlik. ‘n Afdraai naby Swellendam met die naam Vaandrigsdrif het ‘n avontuur ontketen wat my verby Botlierskop in die Suid Kaap tot by Katot Meyer in De Vlugt geneem het.

Daar is mense wat ‘n veerpyltjie na ‘n kaart gooi en waar hy land, dis die bestemming. Probeer dit nou met ‘n GPS…

Die beste dinge in die lewe is die mense vir wie jy lief is, die plekke wat mens sien en die herinneringe wat jy maak. Lank lewe die papierkaart. Gaan loer bietjie watse avonture wag.

Artikel: Johann van Tonder Foto: Brian Cheyne