Is jy ‘n Hardegat Biker?

0
180

Het jy ‘n nuwejaars voorneme? Wel, as jy ‘n motorfiets het behoort een van daai voorneme te wees om meer te ry. Dit is ten minste ‘n haalbare voorneme en boonop lekker om te doen!

Die ideale geleentheid om hierdie voorneme mee af te skop doen hom reeds in Januarie 2023 voor. Die Hardegat 2023 Uitdagingsrit nooi motorfietsryers, dié met agterstewes van staal, om ‘n rit van 1000km in minder as 12 ure te voltooi. Die rit word beplan vir Sondag 29 Januarie en een van die suksesvolle ryers van die dag staan ‘n kans om ‘n vet prys te wen deur middel van ‘n gelukkige trekking. Die rit is dus nie ‘n wedren nie, die oogmerk is net om die 1000km in minder as 12 ure te voltooi.

Ryers vertrek die oggend 6 uur vanaf Garden Route Motorcycles, terwyl ondersteuners die ryers sal inwag op dieselfde petseel vanaf 2 tot 6 uur die middag. ‘n Spesifieke roete is uitgewerk en ryers sal tydens die rit op voorafbepaalde plekke moet fotos neem en op sosiale media plaas, om seker te maak dat geen kortpaaie gekies word nie. Elke ryer wat klaar maak sal ‘n metaal balkie, plakkers en ‘n nekkous (“Buff”) ontvang, spesiaal gemaak vir die suksesvolle ryers van die geleentheid.

Hardegat 2023 is die tweede sulks geleentheid van wat beplan word om ‘n jaarlikse gebeurtenis te word. Voornemende deelnemers kan registreer by cabc.co.za

Hardegat 2023 word aangebied deur Trailrider Media en geborg deur Garden Route Motorcycles.