Die Chery en die In-ry

0
182

Dit het ek nou glad nie verwag nie. Hier, op die R63 buite Graaf Reinet op die Jansenville pad, seker so 10km uit die dorp, is ‘n In-ry! Lewensgroot staan die skerm langs die pad. Die hek is oop en ek ry in. die Fasilitiet is lankal nie meer funksioneel nie, maar die projektor kamer is nog daar en die skerm lyk nie te sleg nie. Slegs 1 skeur. Die ironie dat ek ‘n Chery na die in-ry gebring het ontgaan my nie. Daar was al baie “cherries”na die in-ry gebring. Daarvan is ek seker!

Dit was ‘n ander tyd. ‘n Tyd van nicker balls en coke in glas bottels met die doppie wat jy moes oopmaak teen die koelkas en half-sente met voeltjies op. In die herhindering was dit ‘n eenvoudiger tyd. En goedkoper. Alles word mos net duurder. ‘n Miljoen Rand vir ‘n kar en drie vir ‘n huis. En ons praat nie hier van eksotiese sportmotors en S-Klas Mercedese nie. Elke-dag karre soos Toyota en Hyundai, hulle het al modelle wat anderkant ‘n mijoen kos. Wat sou oupa sê? Wat sou die gemeente sê?

Ek het ‘n kolega. Hy kom uit daardie tyd. Groot geword in Rhodesië. Hy is, soos ek, ‘n motorjoernalis. Internasionaal bekroon. Oor ‘n tydperk van dekades het hy nuwe motors en tendense gesien kom en gaan. Dis gesoute manne soos Richad Wiley na wie mens maar kan luister as hy ‘n mening lig. Toe hy dus in sy rubriek oor die Chery Tiggo 7 skryf dat dit die verrasing van sy Motor-jaar is, toe sit ek regop. Die Chery? Die Chinese kar?

En nou sit ek hier, in die Kamdeboo, in ‘n Chery by die in-ry. Dis sy skuld. Ek kyk met ander oë nie net na die Chery nie, maar na die motormark in sy geheel. Soos wat ons deur die platteland ry en by klein dorpies soos Pearston aandoen, neem ons kerke af. Pragtige statige geboue. Elke dorpie het een. En ‘n Hotel met ‘n kroeg. En deesdae nog iets. Elke dorpie het ‘n Chinese winkel. Skielik, toe ons weer sien, toe sien jy hulle oral. En dit werk, want hulle verkoop dieselfde produkte, maar teen ‘n baie goedkoper prys. En hoekom dan nou meer betaal as jy dieselfde vir goedkoper kan kry. Dieselfde, nie ‘n minderwaardige produk nie.

Dit was reeds met die intrapslag wat ek agtergekom het hoekom my kolega Richard so beïndruk was met sy toets-Chery. Die kajuit van die Chery Tiggo pro 8 wat ek toetsbestuur is luuks. Mens het half die verwagting dat, omdat dit Chinees is en omdat dit goedkoper is, dit goedkoop moet wees. Maar hier betree jy ‘n kajuit met leer sitplekke wat elektries verstel en verskillende persone se verstellings kan onthou. Ook die stuur verstel in vier ritings, so jou gemaklike sit sal jy kry. Die uitleg is skoon en netjies met nie minder nie as drie skerms, maar daar is tog knoppies, diskreet geplaas sodat die kajuit nie so besig moet raak nie, want as jy telkens aan die skerms raak sit hulle later vol vingermerke. Dit het ek nou al in ‘n Mercedes gesien. Elke denkbare luukse is daar, net soos in die Duitse motors, van klimaatbeheer tot die panoramiese sondak. Die klankstelsel is Sony. Gepraat van die sondak, as jy nie die skerms wil vuil vat nie, maar ook nie lus is vir knoppies druk nie, dan praat jy maar. “Hallo Chery. Please open the sunroof.” En woeps – oop skuif die sondak. Dit het ek ook al gesien – in ‘n Twee en ‘n Half miljoen Rand Duitse motor.

Die 1,6L turbo-petrol lewer 145kW en 290nm wringkrag, so toe ek twee lorries tergelyke tyd moes verbysteek op die N10 daar naby Nanaga padstal, toe sit ek net voet neer en 7-spoed dubbel-koppelaar ratkas doen die res. Geruisloos skuif ons verby. En die 8,5L/100km gemiddelde verbruik oor ‘n 1000km was ook glad nie sleg nie, veral in ag genome dat hierdie ‘n 7-sitplek sportnuts is.

Die ding is, hierdie Sportnuts kos R496 900-00 en dis een van Chery se duurste voertuie. En hy het alles. Al die spesifikasie. EN dis ingesluit by die prys. Geen boksies om te merk nie. Hy is goed gebou, met kwaliteit materiale. Hierdie voertuig praat vierkantig saam met enige ander voertuig in sy segment. Hy is nie goedkoper omdat hy goedkoper gebou is nie. Die kwaliteit vergelyk goed en is in gevalle selfs beter as die kompetisie.

So as iemand met die statuur van Richard Wiley en elke ander motor joernalis in die land vir jou sê hier is ‘n motor om na te kyk, miskien is dit dan tog ‘n goeie idee om ten minste net een te gaan toetsbetuur volgende keer wat jy in die mark is vir ‘n nuwe motor. Op die heel minste maak jy dan ‘n ingeligte besluit. En miskien koop jy ‘n lekker motor teen 10 jaar terug se pryse.