Ignis en die Blomme

0
283

Jy wil wat? Ek wil Hel toe ry met die Ignis. Hoekom vat jy nie die bakkie nie? Want die Ignis maak ‘n beter storie!

So het ons Ignis avonture begin. Die parmantige buksie lyk nie net soos ‘n sportnuts nie. Sy 180mm grondvryhoogte gekombineer met die kort asafstand, asook die feit dat sy wiele heel in die hoeke van die motor sit, maak dat hy redelike slegte paaie kan baasraak. Nee, dis nie ‘n 4×4 nie. Nie eers naastenby nie. Maar as jy dit stadig vat, dan kom hy oor redelike ruwe terrein. Grondpaaie is geen probleem nie. Verskeie passe, klowe en ander grondpad avonture is aangepak, en toe hoor ons van die blomme.

Boeke is oopgeslaan. Streke soos Boesmanland en Namakwaland, met dorpsname soos Nababeep, Kommagas, Kleinzee en Gharies. Wie kan dit nou weerstaan? Die plan was in werking. Ignis se volgende avontuur mik Blomme toe.

Dit was ons eerste blommetoer en so toer werk bietjie anders. Die bestemming is vaag. Daar is nie ‘n spesifieke plek waar jy die blomme kan gaan kyk nie. Jy moet gaan soek. Nie net op die regte plekke nie, maar op die regte tyd en temperatuur. Want sien, die blomme kom op daar waar die kondisies die gunstigste is. Hulle maak ook net oop as dit warm genoeg is, so jy hoef nie, soos in die wildtuin, dou voor dag in die pad te wees nie. Jy kan bietjie inlê en wag tot die blomme ook wakker word.

Die Namakwaland en Boesmanland is deurkruis met grondpaaie. En geskiedenis. Daar is dus iets interessants om elke draai. In Keimoes se hoofstraat is ‘n bakkiespomp (Persiese wiel) wat steeds werk en vandag nog lande om Keimoes besproei. In Nababeep by die myn museum staan Klara, die smalspoor-stoomlokomotief wat die kopererts na Port Nolloth vervoer het. Mens sou dink die wêreld is plat, maar beide Spektakel Pas en Wildeperd Pas slaan jou asem weg. Spektakel Pas het sy naam gekry na Simon van der Stel die spektakel-mooi uitsig gade geslaan het.

Maar die blomme, niks berei jou voor vir die eerste keer wat jy oor ‘n heuwel kom en plate en plate blomme sien nie. Dis ‘n skouspel! Wit, pienk, geel, oranje, blou en pers, met name soos Bobbejaangesiggies, Spookasem, Bergkalkoentjie, Gansogies, Konsertinabossie, tot Pietsnot! Soms is die hele wereld net een kleur en soms lyk die vlakte soos ‘n skilders-palet waarop die kleure lekker deurmekaar gekrap is. Die skouspel wat jy hier sien as die blomme oor die vlaktes baljaar laat jou in verwondering. En doer, oor die randjie verdwyn die grondpad en jy kan nie help om te wonder, as dit hier só lyk, hoe lyk dit dan anderkant dáái heuwel nie? Gelukkig vir ons, ry ons met ‘n Ignis. Met al die ry en stop en soek het die karretjie maar ‘n skamele 5,2 liter per 100km gebruik, so daar is altyd nog bietjie petrol vir dáái bult. Net om weer, as jy die Ignis se neus oor die bult steek, jou asem te laat wegslaan met wat jy voor jou sien.

Die ekonomie vandag is nie die beste nie. En petrol pryse is vir seker nie laag nie. Maar dit help nie om by die huis te sit en kla nie. Avonture soos die is steeds moontlik. Jy hoef nie met die tamaai (dors) viertrek te gaan nie, Die Ignis sal hom net so goed van die taak kwyt. Ry net bietjie stadiger. Kyk rond. Geniet die rit. Dis miskien nie die ideale motor vir ‘n gesin van vier met bagasie nie, maar in ons geval van twee was niks meer nodig nie. In ons eerste avontuur was ons Hel toe. In die laaste was ons in die hemel. Die keuse van ons volgende bestemming is letterlik so wyd soos die Heer se genade.

Die Ignis GL verkoop vir R204 900 en die GLX waarmee ons gery het verkoop vir R 236 900. Daar is ook ‘n GLX outo model vir R253 900.

Fotos: Waldo de Waal

Previous articleUncle George Party
Next articleTuinedal Somerfees
Johann van Tonder
Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies.