David en Goliat, Jimny vs Jeep

0
167

Toe die nuwe Jeep Gladiator bekend gestel is, is dit beskryf as die grootste viertrek in SA. Aan die ander kant van die spektrum maak die Suzuki Jimny sy stem dik as die kleinste hardebaard viertrek. Ons het besluit om die twee voertuie Sederberge toe te vat om te sien of groter inderdaad beter is?

Die vergelyking tussen die twee voertuie klink dalk verspot, maar dit was vet pret en wees nou maar eerlik, as jy die kans gehad het om die twee voertuie op so ekspedisie te neem, sou jy dit nie ook aangryp nie?

Toegegee ek was bietjie bevooroordeeld teenoor die Jeep. Ek is ‘n groot Jimny aanhanger en dit was voor die hand liggend dat die Jimny als sou doen wat die Jeep kon doen, teen ‘n fraksie van die prys. Na die naweek het die Jeep my egter ook groot beïndruk.

Eerstens die ooreenkomste. Beide voertuie is gebou om te presteer van die pad af. Dit beteken dat jy gerief inboet op die teerpad. Die Jimny met sy kort wielbasis kan bietjie stamp, sy boksie-bou is nie ideal in die wind nie en spoed is nie hoog op die prioriteitslys gewees tydens sy ontwerp nie. Op die lang reguit N7 Noord het die Jimny 100km/h gehandhaaf teen ‘n sterk dwarswind. Die Jeep het ‘n lang wielbasis, maar die growwe bande raas so op die teerpad dat jy teen meer as 120km/h skaars die radio kon hoor. Verder het die sagte dak erg geraas en gewapper in die wind en die groot V6 enjin is so dors dat die Jeep maar liewer ook 100km/h gery het saam met die Jimny. Die Jimny is klein en die spasie is beperk, die Jeep is groot maar ongelooflik genoeg is daar bietjie minder spasie in die bestuursitplek. Ek (as groot ou) het beter gepas in die Jimny!

Van die pad af en op die viertrek roete was beide voertuie in hul element. Die Jeep met sy groot wiele, agressiewe bande, fox-vering en 209kW enjin ignoreer basies die terrein en ry eenvoudig moeiteloos oor alles. Hierdie is ‘n speelding par excellence. Die dak en deure kan afhaal om die voertuig te omtower in die ideale somer-speelding. Daar is sluitbare stoorplekke onder die agtersitplek, so jy kan steeds waardevolle items in die voertuig bêre en agter die agtersitplek is selfs ‘n Bluetooth-luidspreker vir daai partytjie op die strand. Die klank van daai V6 is verslawend en die Jeep is ‘n plesier om van die pad af te bestuur. Die jimny aan die anderkant was so standard soos wat hy van sy ma af gekom het. Die bande was gewone padbande en boonop was dit die bestuurder se eerste keer in ‘n 4×4. Die Jimny het gesien wat die Jeep doen en eenvoudig gevolg. Nooit gesukkel nie en was nooit uit sy diepte nie. Selfs in standard vorm met ‘n onervare bestuurder het die Jimny sy bestuurder presies geneem waar die Jeep sy bestuurder geneem het, teen ‘n miljoen Rand laer aankoop prys en met die helfte van die brandstof. Dis mos nou die slim kopie.

Dit gesê, die Jeep is nie ‘n eerste of enigste voertuig nie. Die koper van die voertuig koop dit waarskynlik as ‘n tweede of derde motor en spesifiek met die doel om te speel. ‘n Persoon wat by die R1,3milj kan spandeer op ‘n derde voertuig vir speel gaan nie omgee vir die prys of die petrol verbruik nie. En as speelding kom daar nie veel voertuie koeler as ‘n Jeep nie. As dit in jou vermoë is sal die Jeep jou nie teleur stel nie. En terloops, ons het verwag dat hy swaar op brandstof sou wees. Syfers van 16L/100km is genoem, maar ons het oor 550km (waarvan 150km viertrek was) ‘n gemiddelde verbruik van 11L/100km gehad. Nie lig nie, maar baie beter as verwag! Die Jimny se verbruik was 7,1L/100km.

Jeep Gladiator Suzuki Jimny
Aankoop Prys:R1 259 900-00R 344 900-00
Enjin:3.6-liter 6-sillinder petrol1.5-liter 4-sillinder petrol
Kraglewering:209 kW / 347 Nm75 kW/130 Nm
Verbruik tydens rit:11L / 100km7,1L / 100km
Brandstof koste oor roete:R 1 400-00R 900-00

 

En in verdediging… die LR Defender

Soos die toeval dit wou hê was die eerste voertuig wat ons bestuur het na die Jimny en Jeep ook ‘n viertrek. Die keer die Land Rover Defender 90. Dit was dus normaal om ook die voertuig te vergelyk met wat ons in die Sederberg ervaar het.

Eerstens, die Defender sal ook maklik oral gaan waar die Jeep en Jimny was. Toegegee die nuwe Defender is, anders as die Defender van ouds, ‘n baie deftiger voertuig. Mens sal dalk huiwer om met die mooi voertuig in die regtig rowwe plekke in te ry uit vrees dat hy dalk sal krap. Dit beteken egter nie dat hy nie kan nie, ek sou net jammerder vir die voertuig wees. Die voordeel wat die Defender bo die ander twee geniet is sy padgedrag. Die Defender ry net so luuks en gerieflik op die teer as van die pad af. Daar is hy die ander twee voor. Verder is die Defender beskikbaar met ‘n diesel enjin – definitief iets wat ek sou verkies in die Jimny of Jeep. En laastens – terwyl die drie voertuie ewe trots voor Sederberg Oasis geparkeer kan staan, kan die Defender net so trots voor die 12 Apostels staan vir jou middel-middag tee, tussen ‘n luukse sedan en ‘n sportmotor. Die defitige stilering van die Defender maak hom pas in beide wêrelde. Die Defender is duur, hy kos basies net so veel soos die Jeep. Maar die Defender kan wel jou eerste / enigste / familie motor wees.

Meer oor die Defender in ‘n toekomstige artikel.