Suid Kaapse Motorfiets Klubs doen hul deel vir welwillendheid

0
991

Hoewel grendeltyd beweging van mense en voertuie gekortwiek het, het dit geensins die geesdrif en entoesiasme gedemp waarmee motorfiets klubs inspring waar daar tekort is nie. Sedert die verslapping van die bepreking op beweging het verskeie klubs welsyn projekte van stapel gestuur en elke keer het klubs en motorfiets entoesiaste in hul hordes, vanaf Mosselbaai, Plett, Knysna, Oudtshoorn en George opgedaag om te onderesteun.

Daar was hulp aan die bejaardes by Huis JJ Watson, met skenkings van benodighede wat in ‘n verby-ry geleentheid afgelaai is. Skenkings van etlike duisend rand is aangery na Oudshoorn in die vorm van kos en ander benodighede vir dierebeskerming. By ‘n ander geleentheid het motorfiets ryers via twee roetes, een teer langs van George na Mosselbaai en toe na Oudtshoorn via die Robinson Pas, en ‘n ander grondpad roete oor Montagu Pas en via Dysselsdorp na Oudtshoorn hul bene gerek. Die massarit was in ondersteuning van Bennedette Landman, Oudtshoorn se eie Mev Heelal Finalis, teen geweld teen vroue en kinders en het selfs TV nuus gehaal. Hierdie rit was gereel en ondersteun deur Garden Route Motorcycles, kompleet met ‘n gelukkige trekking van koopbewyse ter waarde van R10 000.

Meer onlangs in bibber reënweer het die motorfietsryers, asook verskeie motor klubs, opgeruk na Mosselbaai om klein Aldrich, ‘n sterk en brawe jong kankerleier se verjaarsdag spesiaal te maak. Op Sondag 12 Julie was Water Warriors aan die beurt. Hierdie instansie help die boere en hul werkers in droogte geteisterde gebiede. Donasies is in George by die groot Pick&Pay ingesamel en daarna begelei deur ‘n groot kawelkade motorfietse na hul store in die industriele gebied.

Onder die wilde beeld wat die publiek van motorfietsryers het skuil daar ‘n klomp saggeaarde mense met harte van goud, wat graag uitreik om te help waar hulle kan. Saluut aan die Suid Kaap se Motorfiets klubs en ryers!