Isuzu knap sy mu-X op

0
878

Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSA) het pas ‘n opgeknapte weergawe van sy mu-X aangekondig.

Die nuwe weergawe , wat weer in ‘n 4×2- en 4×4-weergawe beskikbaar is en met dieselfde turbo-diesel enjin van drie liter aangedryf word, spog nie net met nuwe stilerings-kenmerke nie, maar ook ‘n luukser binneruim.

Aan die voorkant het die nuwe mu-X ‘n herontwerpte voorstamper met kleur-gekodeerde afwerking bo en ‘n glansswart onderste gedeelte, nie net vir die stamper nie maar ook vir die rame van die misligte. Ligdiode-dagryligte en bi-LED-kopligte met outomatiese hoogte-verstelling is standaard toerusting. Die nuwe sier-rooster bevat twee groot chroomstroke. Die agterstamper is net soos die voorste een afgewerk en die agterligte bevsat ‘n kombinasie van chroom- en glansswart afwerking. Die dakspore is silwer en swart en daar is nuwe 18-duim diamantsnit-allooiwiele.

Dit is egter nie net die buitekant wat veranderinge ondergaan het nie. Die deur-handvatsels, paneelbord en die afwerking rondom die ratkieser is klavierswart. Die klimaat beheer het afsonderlike luguitlate en verstellings vir voorste en agterste insittendes , en al sewe sitplekke is met leer oorgetrek. Die bestuurdersitplek het sewe verstellings.

Die mu-X se inligting-en-vermaakstelsel bevat ‘n raakskerm van agt duim, asook Bluetooth-, Apple Car Play- en Android Auto-verbinding. Daar is egter ook ‘n negeduim-raakskerm met satelliet-navigasie opsioneel beskikbaar. Die verskillende funksies van die stelsel word deur knoppies op die stuurwiel beheer. Daar is USB-kragpunte voor en agter, asook bykomende HDMI- en iPad-kragpunte. Bykomende standaard kenmerke sluit sleutellose toegang met ‘n aansit-knoppie, asook ‘n trukamera.

Die belangrike nuwe veiligheids-kenmerk is ‘n nuwe nood-rem stelsel wat as Brake Override System bekendstaan. Dit word aan die bestaande ABS-stelsel gekoppel en beperk die inset van die versneller wanneer die rem terselfdetyd getrap word; sodoende word die voertuig se remafstand in ‘n noodsituasie verkort. Ander veiligheids-kenmerke wat steeds standaard toerusting is, is noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding, elektroniese vastrap- en stabiliteits-beheer, wegtrek- en afdraandehulp, asook dubbele voorste-, kant- en vollengte-lugsakke.

Die nuwe mu-X het egter presies dieselfde enjin en ratkas as voorheen. Die turbo-diesel enjin van drie liter lewer 130 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 380 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 opm. Die 4×2 en 4×4-modelle het elkeen ‘n outomatiese ratkas met ses gange en ‘n handrat-funksie as standaard toerusting, terwyl die 4×4 ‘n laestrekfunksie byvoeg. Die mu-X se sleep-kapasiteit is drie ton, wat pas by ‘n voertuig wat vir ‘n avontuurlustige leefstyl bedoel is.

Daar is verskeie bykomstighede om van te kies, vir voornemende kopers wat hul voertuie wil verpersoonlik, onder meer ‘n meganiese ewenaarslot, parkeer sensors, ‘n skerm vir die enjinkap, ‘n bykomende bêreruimte onder die bagasiebak en ‘n voorste drukvin.

IMSA is daartoe verbind om vir hul klante gemoedsrus te gee, en daarom word die mu-X gerugsteun deur ‘n waarborg en padbystand van vyf jaar of 120 000 km, ‘n waarborg teen korrosie van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometer lesing en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km. Voornemende kopers het ook die keuse om die diensplan te verleng, of ‘n volle onderhoudsplan te kies, alles teen ekstra koste.

Die pryse van die nuwe mu-X-reeks lyk soos volg:

Isuzu mu-X 3,0 6 AT 4×2: R 630 400

Isuzu mu-X 3,0 6 AT 4×4: R 698 200

Artikel: Gerrie Smit (Ultimate Drive uitgawe 64)

Previous articleThe New Normal
Next articleA Little Bit Extra
Johann van Tonder
Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies.