Toyota Hilux Legend 50 dubbelkajuit 4×4

0
1069

Is dit Suid Afrika se kampioen bakkie?

Toyota se Hilux bakkie storm na vyf dekades steeds voort om verkope in sy segment in Suid Afrika te domineer. Na 50 jaar op plaaslike bodem bly dit een van bakkie-mal Suid Afrika se gunsteling bakkies. Toyota SA erken dit dan ook deur gereeld ‘n spesiale uitgawe model beskikbaar te maak wat as die “Legend” bekend staan. Oor die jare was daar die Legend 35, 40, 45 en nou die Legend 50 om die vyftigjarige bestaan van die Hilux naam te gedenk. Die nuwe Legend 50 is juis so ‘n model wat met die spesiale “Legend”-pakket in voorkoms en toerusting uitstaan en erkenning gee aan die Hilux se legendariese status die eerste Hilux se verskyning in 1969.

Die “Legend 50” pakket is nou die top pakket en vervang die “Raider” as die topmodel in die Hilux Reeks. Ons toetsmodel was die 4×4 dubbelkajuitweergawe in die Legend 50 reeks en is toegerus met Toyota se 2.8-liter GD-6 turbodiesel met 130 kW en 430 Nm aangesien dit gekoppel is aan die 6-gang handratkas.

Met die bekendstelling van die Dakar-weergawe van die Hilux in 2018, het Toyota begin met kosmetiese veranderinge waaronder ‘n nuwe vooraansig met herontwerpte ligte en sierrooster. Dit het groot byval gevind by kopers. Hierdie veranderinge is nou behou met die nuwe Legend 50, behalwe dat Toyota nou blinkswart in die plek van chroom by die legend 50 gebruik vir onder meer die sierrooster, rolstaaf agter asook in die sierwiele, agterbuffer en met die kantstroke en trappe. Verder is daar Legend 50 insignia op die rolstaaf, agterklap, sierrooster en voor op deure onder die kantspieels. Die LED hoofligte inkorporeer ook nou LED dagryliggies.Die kantspieels, dakrelings, deurhandvatsels en insignia op die agterklap is egter steeds blink chroom en sorg vir mooi afwisseling.

n Sleepstang en swaardiens bakseil is ook deel van die standaardtoerusting sou jy die Legend 50 koop. Spesiaal ontwerpte tweekleur 18-duim allooiwiele met 265/60/R18 “All Terrain” rubber maak seker dat die legend 50 kan omtrent enige terrein met gemak kan baasraak wat selfs die slegste sinkplaat grondpad met redelike gemak hanteer danksy die 60-profiel bande..

Die Legend 50 se binneruim bied slegs geringe verbeteringe teenoor byvoorbeeld die Dakarmodel van die Hilux en sluit ondermeer swart leerafwerking met ligblou stikwerk, ‘n blinkswart inlegstrook oor die breedte van die voorpaneel wat stylvol met ‘n chroomstrook belyn is. Legend 50 bakkies kry ook eksklusief Legend 50 insignia op die matte. Die dak is ook met swart materiaal afgewerk.

Verder bied die wit agtergrond van die instrumentepaneel ‘n treffende voorkoms terwyl die 8 duim TFT multi-info skerm gebruikersvriendelike raakfunksies bied wat in ‘n praktiese en maklike uitleg uitgelê word. Die stelsel is opgegradeer met verbeterde funksionaliteit.

Terwyl die veranderings ooglopend slegs kosmeties is, was daar vir ons tog merkbare verandering in die ritgehalte en stuurgevoel van die nuwe bakkie. Die kajuit was verbasend stil met min pad- en windgeraas selfs teen platvoetspoed. Die nuweling het padvas en stuurgetrou gevoel met min bakrol, terwyl hantering en paddinamika op die teer- en grondpad aangenaam verras het.

Volgens maandelikse NAAMSA syfers voer Hilux bakkies meeste maande in die jaar die botoon wanneer verkoopsyfers bekend gemaak word. Verder sal statistieke van gebruikte voertuigverkope bevestig dat Hilux bakkies van die hoogste terugkoopwaardes behaal. Spesiale modelle soos spesifiek die Legend-reeks is nog meer gesog onder kopers van gebruikte voertuie. Veral die spesiale voorkoms pakket van die Legend 50 behoort kopers van Toyota bakkies te laat kwyl van begeerte, aangesien dit na my mening die mooiste Hilux bakkie tot datum is!

Toyota Hilux Legend 50 Dubbelkajuit: Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 Legend 50 6-spoed handrat R684,500

Artikel: Dirk Gallowitz (Ultimate Drive Uitgawe 64)