Hyundai Atos

0
973

Hyundai Suid Afrika het laat in 2019 sy nuwe klein buksie die Atos met ‘n media bekendstelling in plaaslik terugverwelkom en ons was daar.

n Nuwe voorkoms en moderne stilering asook aantreklike binneruim wat verbasend goed toegerus is, maak die nuweling ‘n uitstekende waardeproposisie in ‘n marksegment wat plaaslik uiters straf kompeteer.

Die Atos word in Indië gebou, maar is verbasend goed afgewerk met indrukwekkende bougehalte vir ‘n intreevlak model. Die nuweling word gebou op ‘n geheel nuwe platform wat groter is as die vorige model. Buite is die nuweling 3,61 meter lank en 1,64 meter breed wat die Atos kompak laat vertoon, maar die binneruim bied goeie ergonomika en ‘n moderne verpakking wat verbasende ruim kajuit met goeie been, skouer en kopruimte tot gevolg het en gevolglik sorg dat die nuwe Atos se kajuit heelwat ruimer voel agter die stuur. Selfs my 1,85m lange lyf sit gemaklik agter die stuurwiel met indrukwekkende kopspasie vir so ‘n klein buksie. Ook die sitplekke het verras met goeie steun en vir ‘n gemaklike rit gesorg.

Met die Atos wat as intreemodel onder die Koreaanse vervaardiger se Grand i10 model plaaslik inval, was my verwagtinge nie te hoog van die klein stadsmotorjie nie. Ek was gevolglik aangenaam verras om te sien hoe goed die kajuit toegerus is.

Die lys met standaard toerusting lyk soos volg:

  • n Infotainment stelsel met ‘n 7-duim raakskerm wat ook Apple Carplay en Bluetooth koppeling insluit;

  • n Ritrekenaar;

  • Stuurwiel met afstandbeheerskakelaars vir die radio, klankstelsel en Bluetooth gekoppelde selfoon;

  • USB koppelpunt om die selfoon te laai wat ook dien as koppeling vir Apple Carplay;

  • 12V krag laaipunt;

  • Lugversorging;

  • Elektries beheerde voorste vensters;

  • Twee lugsakke vir die voorste insittendes;

  • ABS remme;

  • ISOFIX hegpunte op die agterste sitplek vir kinderstoeltjies.

Die viersilinder petrolenjin van 1.1 liter in die nuwe Atos lewer 50 kW se maksimum krag by 5 500 rpm en 99 Nm piek wringkrag vanaf 2 800 r/min wat goed vergelyk met ander modelle in sy marksegment. Amptelike brandstofvebruik vir die nuweling word aangegee as 5,7 liter per 100 km in ‘n gekombineerde siklus van werklike stadsverkeer en ooppadry.

Tydens die bekendstelling het ons rondom die pragtige Tafelberg met die nuweling gery en kon ons die pragtige Valsbaai, Kaappunt en Atlantiese oseaan by Noordhoek bewonder. Oor ou Kaapse Weg via Silwermyn deur die prentjiemooi Tokai kon ons die nuweling se stadsrybene behoorlik beproef met die Atos wat beïndruk het met ‘n stil kajuit en verbasende goeie paddinamika. Aandrywing is deur die voorwiele met behulp van ‘n 5-gang handratkas met lekker kort oorgooie. In geheel was die rit aangenaam en kan ek die nuwe Hyundai Atos met vrymoedigheid aanbeveel aan iemand wat graag so ‘n klein stadsrakker wil aankoop.

Die vorige Atos het 45 092 eenhede in Suid Afrika verkoop en het bygedra om die Hyundai reputasie van betroubare, bekostigbare, waarde-vir-geld voertuie plaaslik te bou. Met ‘n verkoopprys van slegs R159,900-00 btw ingesluit, gaan die nuweling verseker daardie reputasie verder uitdra.

Hyundai Motors SA se indrukwekkende 7-jaar/200 000 km waarborg wat ingesluit is by die nuweling se koopprys gaan myns insiens verder bydra tot die nuwe Atos se gewildheid. So ook die 1-jaar diensplan en 7 jaar of 150 000 km padbystanddiens wat ook standaard deel van die aankoopprys is.

Artikel: Dirk Gallowitz (Ultimate Drive)