KTM 790 R – Koning van die Berge

0
942

Toe BMW in 2007 hul F800GS bekend gestel het, was dit ‘n baanbreker in die middelgewig avontuur mark. Toentertyd was die norm in die segment ‘n enkel silinder 650, terwyl jou tweeslilinder opsies iets soos die Honda TransAlp of die pad georiënteerde Suzuki V-Strom was. Die 650 V-Strom was vinnig genoeg en die 700 TransAlp was vermoënd genoeg van die pad af, maar die F800GS het ‘n kombinasie van beide gebied, asook ‘n meer interaktiewe ry-ervaring, en het die weg gebaan vir middelgewig twee-silinder avontuur fietse.

Sedert daardie dae het baie verander. Meeste 650 enkel-silinder motorfietse het weg geval en ‘n hele reeks nuwe modelle het met die F800GS kom meeding. Triumph het die 800 Tiger, ‘n lewendige drie-silinder met verslawende klank en versnelling. Honda het die die Africa Twin, wat gerat is om van Kaap na Kairo te ry terwyl KTM tot redelik onlangs steeds op die enkel-silinder 690 staat gemaak het in die segment. Dit was egter bekend dat ‘n twee-silinder 790 op pad was en die antisipasie in die mark was aanvoelbaar.

As KTM ‘n avontuur motorfiets ontwikkel, is die klem op avontuur. Hierdie is nie ‘n padfiets met grondpad vermoë nie, nee, hierdie is ‘n motorfiets vir die man regtig op afgeleë terrein gaan rond ry, amper soos die Camel-man van ouds. Dit is toe ook so avontuur in Lesotho wat vir die lede van die media op die bekendstelling gewag het! Vergeet van stop vir tee of ander vyfster bederfies wat jy gewoonlik op ‘n media bekendstelling tee kom. Bring jou motorfiets stewels, ordentlike beskermende klere en ons gaan verken die berg-koninkryk!

Op die beskikbare spyskaart van motorfietse was al die avontuur modelle van die 690 tot die monster 1290R, so die ryers teenwoordig kon nie net al die motorfietse ervaar nie, maar ook duidelik sien presies waar in die reeks die 790 modelle hulle bevind. En ja, daar is twee modelle: Die 790R en die 790S. Laasgenoemde is vir die eienaar wat meer tyd op die pad gaan spandeer, met ‘n groter windskerm, laer saalhoogte en kleiner wiele. Neem mens egter in ag hoe na aan mekaar die twee modelle se pryse is, en wat jy als ekstra kry op die R-model, sal die 790R die volume verkoper wees. Die R-model geskoei met groter speekwiele, verstelbare vering, ekstra rymodusse en dies meer bied net ‘n veel, veel veelsydiger fiets.

Die nuwe 790 modelle is van die grond af nuut ontwerp en indrukwekkend toegerus met spesifikasie en tegnologie. Wat eerste die oog vang is die tablet-tipe instrumente paneel. Die skerm begin met indrukwekkende grafika en bied letterlik al die informasie wat jy nodig het, en meer. Daar kan geselekteer word tussen verskillende skerms vanwaar alles van verstellings van ry-modusse tot bluetooth koppeling kan gebeur.

Begin die wiele rol voel die fiets gemaklik, eerder as oordonderend. Kraglewering en hantering is voorspelbaar en boesem onmiddellike vertroue in. Begin jy speel met die verstellings raak dit gou duidelik dat elke ry-modus verandering verander die karakter van die ABS, glip-beheer, versneller-reaksie asook die vering, so rit-modus verstellings is opmerklik verskillend. Wat egter uitstaan, as jy eers die vervelige teer verlaat het, is die Rally-modus! In hierdie modus is die versneller reaksies oombliklik kan die ryer in die ry die glipbeheer verstel tussen nie minder nie as nege verstellings. Op 9 hou die stelsel als mooi onder beheer, maar op verstellings 1 tot 4 sal jy lyk soos ‘n wafferse Alfie Cox deur die draaie, sonder dat die stelsel die fiets sal toelaat om buite beheer te raak.

Die 790 is lig (189kg droog), kragtig (95hp/70kW) met goeie gondvryhoogte (233mm) en terwyl al die syfers beïndruk, is dit die kombinasie van hoe die fiets aanmekaar gesit is en hoe gemaklik hy oor ruwwe terrein ry wat werklik beïndruk. Die 20L brandstof tenk is laag geleë, tussen die ryer se bene en hou die gewig lekker laag. Die KTM is vasvoetig en ry amper beter en lekkerder hoe vinniger jy oor die ruwwe terrein ry. Die WP-vering met elk 200mm beweegruimte voor en agter absorbeer eenvoudig enige terrein waaroor jy beweeg. En so vermoënd as wat die 790 van die pad af is, bied hy ook die geleentheid om te toer. Daar is voorsiening gemaak vir bagasie en met ‘n reikwydte van 400km kan die ryer lekker ver van die beskawing gaan toer.

As middelslag avontuur toermotorfiets tiek die KTM790 al die boksies en is in die segment waarskynlik die mees vermoënd van die pad af. Boonop is hy reg geprys, in lyn met ander motorfietse in die segment en beduidend goedkoper as sy Germaanse konkurent.

Tog, die motorfiets is seker nie vir almal nie. Vir die ryer wat net soos ‘n avonturier wil lyk by sy naaste koffiewinkel sal ‘n meer pad-georiënteerde fiets verkies (so lank hy net op die sypaadjie kan parkeer). Die KTM790R is egter doelgebou vir avontuur en sal die regte avonturier nie teleurstel nie. Die regte Camel-man. Want aan die einde van honderde kilometer se avontuur drink jy nie tee nie.

KTM Adventure S – R 173 999-00KTM Adventure R – R 185 999-00

Artikel: Johann van Tonder Foto: ZC Marketing

Die artikel was in Ultimate Drive Ed.55

Previous articleVerken die Suid Kaap!
Next articleIn ons Piekniek mandjie!
Johann van Tonder
Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies.