Warm Swift Sport Skop nou met turbokrag

0
864

Noem die naam van Suzuki Swift Sport en meeste motor-entoesiaste sal met respek reageer. Die klein warm buksie het oor die jare beïndruk met eerlike verrigting, rateltaai enjins en bougehalte met integriteit, ‘n Ligte bak, toergierige enjins en relatiewe bekostigbaarheid in ‘n sportiewe en aantreklike jas, was die sukses resep vir begeerlikheid en gewildheid.

Nou in derde-generasie formaat, kom die klein vlamgat met turbokrag-aanjaging. Ek was een van die menigte Suzuki-entoesiaste wat aanvanklik maar skepties was, want sien, normaal geaspireerde verrigting enjins moes teen hoë (skreeuende!) toere loop om maksimum wringkrag en verrigting te kan lewer. Dit kom met ‘n bypassende klankbaan, iets waarvoor ‘n egte petrolkop hoendervel kry van lekkerte. Daarteenoor is turbo-enjins ontwerp om met geforseerde lug in die silinderkamers al teen lae toere omtrent maksimum trekkrag te lewer wat die 0 – 100 kpu lopies soveel vinniger maak. Turbo’s raak dus uitasem by hoër toere en gevolglik is die klankkakafonie ook daarmee heen.

Die ou Swift Sport was toegerus met ‘n 1.6 l petrolenjin sonder ‘n turbo wat oopketel teen maksimum (skreeuende) 6900 rpm, 100 kW en 160 Nm piek krag en wringkrag kon lewer. Die 2019 model het egter nou ‘n 1.4 liter turbo-aangejaagde petrol kragbron wat maksimum 103 kW krag teen 5500 rpm en 230 Nm se piek wringkrag, wat reeds by 2500 toere beskikbaar is, lewer. Terwyl die 3kW krag dalk nie so indrukwekkend op die oog af is nie, het Suzuki se witjasse dit reggekry om 90 kg gewig te bespaar sodat die 2019 Swift Sport nou slegs 970 kg weeg. Voeg daarby 70 Nm se ekstra wringkrag en die klein Swift Sport kom met skop-in-die-rug woema. Tydens die bekendstelling kon ons die nuweling se ekstra krag behoorlik beproef op die Red Star Raceway in Mpumalanga. Die nuweling beïndruk met hantering en balans, terwyl die ekstra wringkrag welkom was. Waar mens gewoonlik die ratte sou laat woel kon die nuwe Swift basies die hele baan net in 4de rat ry. Ek is van mening dat die 2019 Swift Sport ook sal beïndruk in normale rytoestande en dat verrigting, hetsy op die ooppad of in die draaie, matelose bestuurgenot sal verskaf.

Binnekant is die kajuit modern en sportief afgewerk met materiale en vakmakskap van goeie gehalte. Die sportstuurwiel, sportsitplekke en standaardtoerusting gaan baie kopers se harte wen. Ek is absoluut verlief op die nuwe Swift Sport se kajuit en terwyl die nuwe “Champion Yellow” die bekenstellingskleur is wat die Sport laat aandag trek, is dit die pragtige rooi wat my hart gewen het.

Die 2019 Suzuki Swift Sport verkoop vir R315 900-00 met ‘n 6-spoed handrat, of vir R335 900-00 met ‘n outo-kas.

Oorspronklike artikel deur Dirk Gallowitz in Ultimate Drive Ed.56