Suzuki se S-Presso is nou goedkoopste motor

0
1396

Suzuki Auto het pas sy nuwe intreevlak-reeks vir Suid-Afrika, die S-Presso in Suid-Afrika bekendgestel, en die goeie nuus vir mense met ‘n beperkte begroting is dat dit nou die goedkoopste model op die plaaslike mark is. Suzuki wys ook dat “goedkoop” en “sakpas” nie “afskeep” hoef the beteken nie en die S-Presso se indrukwekkende lys van standaard toerusting bewys dit.

Die S-Presso is beskikbaar in vyf modelle; drie met ‘n handratkas en twee met ‘n AMT (outomatiese handratkas) en bied ‘n kompakte dog ruim bakwerk. Gebasseer op die HEARTCT-platform van die nuwe Swift en Dzire maak dit die S-Presso lig maar stewig en lei tot beter verrrigting en hantering, minder geraas en die beste passiewe veiligheid in sy klas. Die hele reeks word toegerus met ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, twee lugsakke en agterste parkeersensors terwyl die meeste modelle selfs oor ‘n trukamera beskik.

Die hele reeks word aangedryf deur dieselfde eenliter-enjin met drie silinders wat 50 kW en wringkrag van 90 Nm lewer. Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstofverbruik 4,9 liter per 100 km.

Aan die buitekant is die sportnuts-karakter van die S-Presso duidelik sigbaar. Aan die voorkant is daar ‘n sierroooster met vier gleuwe en ‘n groot S-kenteken, met die kopligte en rigtingwysers aan weerskante. Die swart onderste stamper onder die sierrooster word in ‘n trapesiumvorm in die gekleurde hoofstamper ingetrek om ‘n groter luguitlaat en die visuele indruk van ‘n sportnuts te skep. Die grondvryhoogte van 180 mm is deels te danke aan die 14 duim-staalwiele met volle wieldoppe. Aan die kant is daar fris modderskerms met halfvierkantige wielnisse en die wiele is heeltemal in die hoeke geplaas vir verbeterde padhouvermoë. Daar is ses bakkleure beskikbaar: wit, grys, silwer, blou, rooi en oranje en die deurhandvatsels en buitespieëls is dieselfde kleur as die bakwerk. Aan die agterkant is daar ‘n klein ingeboude lugskort by die agterklap gevoeg terwyl die vierkantige agterligte met hul C-ontwerp tot bokant die skouerlyn geskuif is om die sportnuts-tema nog verder te versterk. Die swart agterstamper se ontwerp is soortgelyk aan dié van die voorstamper en is onder die gekleurde deel aangebring.

Daar is drie spesifikasievlakke beskikbaar. Die GL is die intreemodel en beskik oor standaardkenmerke soos ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, twee lugsakke, elektriese vensters, agterste parkeersensors, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, ‘n sirkelvormige instrumentepaneel met ‘n volledige ritrekenaar, lugversorging, ‘n 12 volt-kragpunt, twee luidsprekers, voorbereiding vir ‘n radio en ‘n brandstofvuldop wat van binne af kan oopmaak. Die GL is net met ‘n handratkas beskikbaar.

Die middelste model, die GL+, is beskikbaar met die hand- en AMT-ratkaste. Onder die bykomende kenmerke wat standaardtoerusting vir die GL+ is, is ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n seweduim-kleurskerm en Apple Car Play, Android Auto en Bluetooth-verbinding, USB en AUX-kragpunte en ‘n trukamera. Die topmodel in die reeks is die S-Edition, met kenmerke soos silwer afwerking op die middelkonsole, lugversorging-uitlate en deurpanele, silwer invoegsels vir die sierrooster, silwer skermplate voor en agter, syskerms op die wielboë en die onderste dele van die deure. Die syskerms aan die deure word verder beklemtoon deur ‘n groot silwer paneelinsetsel wat die voorste en agterste silwer skermplate visueel met mekaar verbind.

Daar is verskeie bykomstighede by Suzuki-handelaars beskikbaar, onder meer ‘n kleurgepaste sierrooster, ‘n agterste drukvlerk, skermplate aan die kant van die voertuig en skermstroke in swart en silwer of swart en oranje.

Die pryse van die S-Presso-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000km, ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km, ‘n jaar se omvattende versekering en padbystand van drie jaar ongeag die motor se kilometerafstand insluit, lyk só:

S-Presso 1,0 GL-handrat: R 134 900
S-Presso 1,0 GL+ handrat: R 139 900
S-Presso 1,0 GL+ AMT: R 152 900
S-Presso S-Edition-handrat: R 147 900
S-Presso S-Edition AMT- R 160 900

Artikel: Gerrie Smit (Ultimate Drive)

Previous articleNuwe Toyota Corolla Sedan
Next articleLove George Network
Johann van Tonder
Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies.