Renault stel sy jongste Mégane RS bekend

0
880

Die 300 Trophy is vir die eerste keer by die 2018-motorskou in die Franse hoofstad Parys bekendgestel; die eerste RS Trophy wat gebaseer was op die Mégane II RS, het in 2005 op die mark gekom, slegs nege maande na die bekendstelling van die eerste Mégane RS. Die RS Trophy is ontwikkel uit jare se kennis en ondervinding met Formule 1, en is meer geskik vir die renbaan as die gewone RS. Die 300-naam is afgelei van die motor se kraglewering in perdekrag. Daar sal van hierdie model egter net beperkte getalle wêreldwyd beskikbaar wees; dit sal verseker dat die RS Trophy ‘n gesogte versamelaars item word.

Motorgees-drifgites kan uitsien na ‘n meer sportiewe ontwerp as voorheen, met uitstaande stilerings-kenmerke soos grafiese kunswerk op die voorste modderskerms saam met ‘n Trophy-kenteken op die bakwerk, 19-duim allooiwiele in drie kleure met Bridgestone Potenza S 001-bande, ‘n agterste lugverdeler en ‘n uitlaatpyp wat in die middel agter gemonteer is.

Aan die binnekant word dié sportiewe tema voortgesit, met ‘n stuurwiel wat met Alcantara afgewerk is, ‘n aluminium-rathefboomknop, Recaro-skottel-sitplekke wat ook in Alcantara afgewerk is en maksimum gemak onder alle bestuurstoestande verseker en oor kontrasterende rooi stikwerk beskik. Daar is ‘n raakskerm van 8,7 duim met satelliet-navigasie wat oor Suid-Afrikaanse kaarte beskik, asook Bluetooth-verbinding met USB- en AUX-kragpunte. Die dubbelsone-klimaatbeheer, spoedbeheer met ‘n snelheids-beperker, Renault se unieke sleutelkaart, met sleutellose toegang en ‘n aansit knoppie, asook outomatiese kopligte en ruitveërs maak die binnekant ‘n gerieflike plek al is die RS Trophy ‘n verrigtingsmotor.

Nog ‘n kenmerk wat deur motorgeesdriftiges verwelkom sal word, is ‘n aanboord-stelsel wat die bestuurder op hoogte van die motor se werkverrigting hou; selfs die motor se rondtetye om ‘n renbaan kan aangeteken word. Verder word die RS se vierwiel-sturstelsel wat die motor se draaisirkel verklein en vinniger stuurreaksie verseker, vir die Trophy gebruik. Dit sorg ook vir beter rondtetye om ‘n renbaan en maak die motor heelwat veiliger. Die Cup-onderstel is standaard toerusting vir die Trophy, en spog met ‘n stywer veerstelsel asook ‘n Torsen-meganiese vastrapewenaar wat die motor se klouvermoë, veral om draaie, verbeter. Die voorste remme is van die beste wat beskikbaar is, en spog met Brembo-remknypers, wat vir optimale remvermoë sorg.

Die RS Trophy is beskikbaar met ‘n keuse tussen ‘n handratkas of ‘n EDC-dubbelkoppelaarratkas, elk met ses gange. Albei modelle word toegerus met ‘n turbnoaangejaagde 1,8 liter viersilinderenjin met regstreekse inspuiting; dié enjin lewer 221kW teen 6 000 opm en wringkrag van 400 of 420 Nm teen tussen 2 400 en 4 500 opm vir die handrat en EDC-onderskeidelik. Albei modelle versnel binne 5,7 sekondes van 0 tot 100 km/h en die topsnelhede van die handear en EDC is onderskeidelik 260 en 255 km/h. Die EDC-modelle beskik oor ratspane agter die stuurwiel waarmee ratte vinnig gewissel kan word.

Die pryse van die twee RS Trohpy-modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km, asook ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar insluit, lyk só:

Renault Mégane RS 300 Trophy-handrat: R 774 900

Renault Mégane RS 300 Trophy EDC: R 799 900

Artikel: Gerrie Smit (Ultimate Drive)