Nuwe Toyota Corolla Sedan

0
924

Die staatmaker nou nog beter

Die wêreld sonder ‘n Toyota Corolla is omtrent soos ‘n leefstyl sonder rugby en braaivleis, dit is nou in ‘n Suid Afrikaanse konteks. Meeste Corolla eienaars kan hul nie indink aan ‘n lewe sonder hul getroue Corolla nie.

Toyota het die Corolla in 1966 bekendgestel en die model het sedertdien wereldwyd gegroei tot ‘n huishoudelike naam. Met die nuwe Toyota Corolla, nou reeds die 12de generasie van hierdie legende in gesinsmotor, het Toyota ‘n nuwe ontwerprigting gekombineer met die suksesvehaal wat geskryf is oor meer as ‘n halwe eeu en verkope wat 45 miljoen Corollas oorskry.

Ontwerp en Voorkoms

Die nuweling het dieselfde voorkant ontwerp as die luikrug wat laasjaar plaaslik bekendgestel is.

Die pylvormige LED hoofligte met dagryliggies geïntegreer wat na die sentraal gemonteerde Toyota-embleem in die sierrooster fokus, trek onmiddelik aandag. Soos die luikrug wat laasjaar plaaslik gedebuteer het, vertoon die sedan modern en sportief danksy ondermeer ‘n kort daklyn en skuins C-pilaar. Die agterste buffer dra by tot die sportief aggressiewe voorkoms met geïntegreerde vinne om die lugvloei van die wielboë te kanaliseer.

Modelle

Drie modelle is beskikbaar met twee afwerkingsvlakke naamlik XS en XR, waar die XR as die vlagskipmodel dien. Die XR model word eksklusief met die nuwe 2.0 liter enjin toegerus en bied ‘n keuse van ‘n 6-spoed handratkas of 10-gang CVT. Die 1.8L XS model is die intreemodel en kom standaard met 16” allooiwiele en 205-55-R16 bande. Daarteenoor ry die XR modelle op stylvolle 18” allooiwiele met ‘n nuwe “turbiene”-ontwerp en 225-40-R18 bande.

Kajuit en Toerusting

Die nuwe Corolla se kajuit bied ‘n soortgelyke uitleg en ontwerp as die luikrug weergawe met ‘n ergonomies praktiese uitleg en moderne stilering. Afwerking is met materiale van gehalte terwyl harde plastiekoppervlaktes nou grootliks met ‘n sagte oppervlaktes vervang is, terwyl dowwe aluminium afwerkingstroke die moderne gevoel in die kajuit beklemtoon.

Die sedan bied ook blou kontrasterende stiksels wat goed kombineer met die blou agtergrond beligting rondom die skakelaars en in die instrumentepaneel. ‘n Nuwe ontwerp vir die skottelvormige voorste sitplekke, beklee in ‘n moderne sintetiese materiaal genaamd “RezatecTM”, sorg vir ‘n luukse gevoel. Die luukser XR model bied kopers ‘n keuse van sportiewe blou of klassieke grys afwerking.

Met Apple CarPlay, Android Auto en ‘n volkleur raakskerm (4,2″ in die Xs en 7″ in die XR modelle) is kommunikasie, rit- en voertuiginligting asook die klankstelsel maklik toeganklik. Klimaatbeheer met ‘n “Eco”- opsie, tru-kamera, elektriese vensters, sleutellose toegang asook elektriese verstelling vir die voorsitplekke sorg dat daar heelwat geriewe vir insittendes is in die nuweling. Die bestuurder sal ook die multifunksionele stuurwiel met skakelaars vir meeste geriefsfunksies gemaklik vind. Die stuurwiel kan op en af, so wel as teleskopies verstel word. XR modelle bied boonop ‘n truspieël wat outomaties verdof.

Rit en Paddinamika

Die nuwe Corolla reeks beskik oor ‘n bewese voor veerstelsel wat van MacPherson strutte voorsien is, terwyl ‘n veelskakel stelsel agter ingespan word. Nuut ontwerpte en spesifiek gespesifiseerde skokbrekers voor en agter word gebruik. Hierdie skokbrekers beskik oor nuwe kleptegnologie en word, tesame met doelgeboude kronkelvere wat spesifiek ontwerp is sodat die reaksies maksimaal reageer, ingespan ten einde die beste terugvoer van die stuurstelsel te kry wanneer die Corolla teen middelmatige tot hoëspoed deur draaie gelooi word. Die resultaat is vinniger reaksies van die skokbrekers ten einde die oordrag van skokke vanaf slegte padoppervlaktes, gouer te kan minimaliseer vir ‘n sagter rit. Uiteraard is die algehele resultaat beter hantering en stabiliteit asook ‘n geriefliker rit.

Die Corolla se GA-C platform is ook spesifiek ontwerp om ratkasvibrasies te onderdruk. Tesame met die mildelike gebruik van hitte- en geraas-isolerende materiale in die enjinkompartement, word die instrumentepaneel van die nuwe Corolla ook uit drie lae isolerende materiaal vervaardig om enjin en ratkasklanke asook vibrasies te minimaliseer. Alles sodat die kajuit so stil moontlik kan wees tydens ‘n rit.

Enjin en Kraglewering

Toyota SA het die nuwe Corolla aanvanklik net met twee enjinopsies plaaslik beskikbaar gestel.

‘n Normaal ge-aspireerde 1.8-liter petrolenjin is net so oorgedra van die vorige model. Die enjin lewer 103kW en 171Nm en is gekoppel aan ‘n 7- gang “Shiftmatic” CVT ratkas wat met 7 voorafgeprogrammeerde “ratte” krag na die voorwiele oordra.

Die tweede kragbron is ‘n nuwe toevoeging, naamlik ‘n 2.0-liter “Dynamic Force”’ TNGA enjin soos wat in die RAV4 beskikbaar is en in die nuwe Corolla groot klem plaas op brandstofbesparing. Ook sonder turbokrag lewer hierdie petrolenjin 125kW en 200Nm wat krag na die voorwiele dryf deur ‘n opsie van ‘n 6-gang handratkas of ‘n 10-spoed “Shiftmatic” CVT. Amptelik word brandstofverbruik vir die nuwe Corolla aangegee as 6.2 l/100 km vir die 1.8-liter model, terwyl die 2.0-liter handrat 6.5L/100km en die 2.0-liter CVT 6.0 l/100 km gebruik.

Veiligheid

Al die nuwe Corolla modelle kom standaard met sewe lugsakke, ISOFIX, aktiewe elektroniese veiligheidstelsels soos ABS, EBD, BAS, VSC, HAC asook ‘n impak-absorberende bakstruktuur.

Die topmodel XR word bykomend toegerus met Toyota se TSS stelsel (Toyota Safety Sense) wat ‘n omvattende stel bestuurderhulpmiddels insluit. TSS sluit onder meer in “Pre-collision system”, blindekol monitor, spoedbeheer en “Lane Trace Assist”. Die XR model kom ook standaard met Bi-LED hoofligte.

Vir die bakstruktuur word aluminium, hoë sterkte staal asook ander materiale ruimskoots aangewend, terwyl dunner panele vir die dak en deure gebruik word ten einde heelwat gewig in die nuweling te bespaar wat weer bydra tot beter brandstofverbruik. Met die groter gebruik van sterker kleefmiddels en minder sweislaste het die nuwe Corolla ‘n 60% verbetering in bakrigiditeit bo die uitgaande model wat hoëspoed stabiliteit, hantering en paddinamika asook stuurgevoel en terugvoer grootliks verbeter.

Ook die enjin en die sitplekke is laer gemonteer en dra dit ook by dat die nuwe Corolla se sentrale gravitasiepunt 10mm laer is as die vorige model. Dit help vir beter stabiliteit en bestuursdinamika op die pad.

Modelle en Prys

Corolla 1.8 XS CVT – R 372 700

Corolla 2.0 XR 6MT – R 412 300

Corolla 2.0 XR CVT – R 425 200

Waarborg en Diens

Alle Corolla modelle word verkoop met ‘n 90 000km/6 dienste diensplan met ‘n diensinterval van15 000 km/12maande. ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg is ook ingesluit.

Article: Dirk Galowitz (Ultimate Drive)