Nuwe Q8 maak dadelik ʼn impak

0
1124

Vir baie Suid-Afrikaners is R1-miljoen net té veel geld om van te droom, terwyl vir ander dit kleingeld is. En dan kan jy nog ʼn trap of twee verder gaan en begin gesels oor wat dit is om R1.5m of selfs R2m op ʼn motor te spandeer. Dis vrek baie geld om op vier wiele en ʼn enjin uit te gee, tog is daar mense wie dit kan doen. En dan begin wonder jy oor of Suid-Afrika régtig in ʼn ekonomiese krisis gedompel is. En as daar ʼn krisis is, vir wie raak dit dan nou eintlik?

Ek vra so, want einde April 2019 het Audi sy nuwe Q8 kom bekendstel en in Mei het die vervaardiger 39 van hierdie SUVs van die hand gesit. 39 eenhede van ʼn voertuig wat knus onder R1.4-miljoen kos. So wat maak hierdie Q8 dan nou eintlik so spesiaal?

Die Q8 is ʼn heel nuwe SUV wat bo-aan Audi se hierargie sit. Dit is Ingolstadt se nuwe voorbok wanneer dit by SUVs kom en verdwyn selfs die Q7 – wat ook nie klein is nie – amper in sy skaduwee. Dis so groot, in fact, dat wanneer ʼn gemiddelde grootte man dwars voor die Q8 lê dit sal lyk of hy voor ʼn blouwalvis se bek uitkamp. Die Q8 spog met ʼn nuwe sierrooster wat dit beslis teenwoordigheid op die pad gee. Dit lyk wonderbaarlik mooi en sal die Q8 ook voortaan die pas aangee vir wat Audi met die ontwerp van sy SUVs wil doen.


Tog is dit nie net buitekant waar die Q8 beïndruk nie. Binnekant is daar ʼn oormaat weelde en luuksheid en word Alcantara leer mildelik ingespan. Nuwe en aangepaste tegnologieë is tot die insittendes se beskikking en word raakskerms eerder as knoppies gebruik. ʼn Lekkerny is die twee skerms wat die middelkonsole uitmaak en help dit beslis om instruksies makliker in te voer. Sewe passasiers kan in drie rye sitplekke geakkommodeer word en wanneer die twee sitplekke in die kattebak nie in gebruik is nie, is die laairuim ʼn baie gawe 605L. Maar slaan ook die tweede ry sitplekke plat en daai ruimte vergroot met meer as 1000L! Dis ʼn helse klomp spasie, maar dan moet ons ook onthou dat die Q8 ʼn helse groot wa is.

Audi het vir eers net een model aan land gebring – die Q8 55 TFSI Quattro – en sal ʼn 3.0-liter V6 diesel, genaamd die 45 TDI, in die tweede helfte van 2019 geloods word. Die 55 TFSI word óók deur ʼn 3.0-liter V6 enjin aangevuur, maar een wat petrol instede van diesel sluk. Hierdie enjin skop ʼn gesonde 250kW en ʼn fris 500Nm uit. Audi praat van ʼn 0-100km/h-lopie wat in 5.9 sekondes afgelê word en ʼn top spoed wat tot 250km/h beperk word. Dis vrek vinnig vir ʼn voertuig wat 2000kg weeg, maar dit word veral aangehelp deur Audi se befaamde Quattro stelsel wat krag, via ʼn agt-spoed outomatiese ratkas, na al vier wiele stuur. En, moenie vergeet nie, die Q8 kan ook met al-wiel stuur bestel word, wat toelaat dat die agterwiele met soveel as 5° kan draai. Heito! Smaak my hierdie wa sal soos ʼn GTI om ʼn draai kan sit!


Audi was nie skaam om die Q8 van die beste te voorsien nie en kan die SUV met reg sy plek bo al die modelle in die Audi-stal inneem. Teen R1.4-miljoen, vóór opsies, is die Q8 nie goedkoop nie, maar Audi slaan alreeds munt uit die nuwe model se aankoms.

Artikel vanuit Uitgawe 54 van Ultimate Drive (Charlen Raymond).