‘n Veiling Ervaring.

0
260

Die gewag vir ‘n “Bargain”!

Artikel: Carina Burger

Dis ‘n vreemde ding, ‘n veiling, as jy nie daaraan gewoond is nie. Dis ‘n samekoms van mense, van alle oorde van die lewe, wat almal die selfde items wil kom koop en elkeen hoop hulle kry hom vir ‘n “bargain”!

OK, almal wil nou nie noodwendig presies dieselfde ding koop nie, maar almal, sonder uitsondering, is op die uitkyk vir ‘n winskoop. Dis ‘n miernes van bedrywigheid voor die veiling begin. Items word bekyk en deurgestap, alles van meubels en antiekhede tot kuns, motors en bote, somme word gemaak en registrasies word gedoen.

Ek is daar vir die wiele. Daar is paar voertuie wat die oog trek. ‘n Mercedes SLK Kompressor, 2005 model, slegs 159 000km. Die dak kan wegvou. ‘n 2014 VW Polo, vol diens rekord. Ek hoor iemand sê hulle gaan hom probeer optel vir R50 000. R50 000! Kan mens nog ‘n netjiese motor koop vir R50 000? ‘n Polo nogal. Tussen al die motors staan ‘n 2007 Hilux. Gemiddelde toestand, meer as 200 000km, die bakkie het al gewerk. Maar die bakkie blyk die ster van die veiling te wees. Daai Hilux, almal wil hom hê. Net ander kant hom staan ‘n 2017 VW Jetta. So mooi witte met 114 000km. Die kar is werklik netjies met ‘n vol diensrekord. My oog vang ook ‘n lekker toegeboude waentjie. Die boot langs hom egter, die se eienaar moet verkoop. ‘n 5m Wildcat Rubber Duck, alle sertifikate en lisensies op datum, waentjie ingesluit. Geen reserwe prys. Nee wag, ek is hier vir ‘n motor. As ek by die huis aan kom met ‘n rubber boot sal ek nooit die einde hoor nie!

Die veiling begin. Dis nogal ‘n opgewondenheid vir ‘n groentjie soos ek. Die pryse styg vining en jy moet kop hou by watter lot hulle nou trek. Moet ook nie vir iemand aan die ander kant waai nie, voor jy weet is jy die eienaar van die huidige lot. Net nie dit nie!

Hier gaan iemand ‘n bargain koop. Een van die Polos, die SLK, of selfs daai Jetta. Almal weet dit gaan winskope wees, maar moet jy nou jou geld blaas voor die Hilux op kom en dan het jy dalk te min? En onthou, die kommissie moet nog by kom. Die eerste bod op die 2016 Polo 1,6L word ingesit. Dit klim fluks en stop dan skielik. R67 500! Vir die eerste keer… Wat? Sjoe! Dis goedkoop. Vir die tweede keer… Moet ek? Moet ek nie? Toegestaan! Die koper glimlag tevrede. Hy het vandag sy winskoop gekry. Dis seker. ‘n 2014 Peugeot GTI volgende. Die word ook vir ‘n winskoop verkoop. R65 000. Die SLK lok lekker belangstelling. Wie wil nou nie ‘n sportmotor ry nie? Die mense bie fluks, tot op ‘n punt. R85 000. Vir die eerste keer. Vir die tweede keer… Toegestaan! ‘n SLK Kompressor vir R85 000. Niemand sal my glo nie. Maar die manne hou terug. Daai Hilux wag. Die Jetta is volgende. Daar is minder belangstelling as wat ek verwag het. Ek bie, maar die nuwigheid laat my maag draai. Opgewondenheid. Aanvanklik bie drie van ons, maar een kêrel val vinnig uit. Nou is dit ek, die ander man en die Jetta. Voor ek my oë kan uitvee val hy ook uit. My bod is op R105 000. Vir die eerste keer… Vir die tweede keer… Toegestaan! Ek het ‘n netjiese 2017 VW Jetta met min kilos gekoop vir R105 000! Ek kan my geluk nie glo nie.

Die res word in ‘n japtrap van die hand gesit, maar ek stel nie meer belang nie. Ek het my winskoop gekry. Die 5m Rubberduck met ‘n 100hp Mariner enjin het gegaan vir R14 000. En die Hilux? Hy is verkoop vir R170 000. Suid Afrikaners is mal oor ‘n Hilux.

 

Veiling voertuie verkoop:

Nissan NP300 DC Diesel – R80 000

2016 Isuzu Ext.Cab 4×2 Petrol – R160 000

2008 Corsa Bakkie 1,4 Petrol – R58 500

2014 VW Polo Petrol manual FSH – R 65 000

2002 Merc C320 2L Petrol Auto – R32 500

1996 Mazda Rustler – R25 000

2001 Colt DC 2,4L Petrol – R32 500

2005 Merc SLK Petrol Manual – R85 000

2014 Peugeot GTI 1,6L Petrol FSH – R65 000

2011 VW Polo 1,4L Petrol – R 67 500

2017 VW Jetta FSH – R 105 000

2012 VW Polo Gti 1,4L – R 110 000

2016 VW Polo 1,6L Auto – R67 500