Middellewe mooimaakkuur vir Gothenburg se XC90 bring nuwe tegnotruuks

0
896

Die Swede is meesters van minimalisme en die witjasse van Gothenburg is geen uitsondering wanneer dit by hul Volvo motors kom. Die 2019 opgradering van die XC90 is ‘n sprekende voorbeeld van hoe minimalisme ook hier toegepas word met die konkawe sierrooster en nuwe hoofligte omtrent die enigste visuele veranderings by die 2019 model. Kies jy die sportiewe “R-Design” afwerking vir jou 2019 XC90, word hierdie sierrooster effe platter met ‘n heuningkoek ontwerp en in swart afgewerk. Nuwe wielontwerpe en bakkleure is ‘n bonus. Die geheelbeeld is egter steeds net so treffend soos toe die eerste generasie nagenoeg vyf jaar gelede bekendgestel is.

Binnekant is ook die kajuit basies onveranderd gelaat, tog aksentueer nuwe materiale en dekorelemente die skoon lyne en minimalistiese, byna skakelaarlose afwerking. Die groot gebruikersvriendelike iPad-tipe raakskerm domineer steeds die voorpaneel terwyl daar ‘n paar ekstras bygevoeg is op die spesifikasielys, waaronder twee sokke vir geheuestokkies en ook ‘n koppelpunt vir ‘n geheuekaart. Ek was veral beïndruk met die nuwe “Connectivity App” en “Volvo On Call” stelsel. Druk jy die “On Call” -knoppie bo in die dak verbind die stelsel die motor met ‘n “Volvo oproepsentrum” waar ‘n persoon gretig is om jou te help. Ek het byvoorbeeld hulp versoek om rigtingwysers te kry vanaf Kaapstadse Internasionale lughawe na ‘n spesifieke wynlandgoed in die Boland. Die persoon het binne etlike sekondes ‘n skakel gestuur wat op die XC90 se navigasiestelsel vertoon het en waarop ek bloot moes klik om die roetekaart asook stembeleiding te aktiveer!

Die “On Call” toepassing kan jy ook aflaai op jou slimfoon/horlosie of tablet waarmee jy dan ‘n verskeidenheid van funksies binne jou XC90 mee kan beheer soos ondermeer die enjin aanskakel van buite, deure oop/toesluit, lugreëling vooraf verstel en selfs reisverwysings ontvang.

Die kajuit ambiaans is weelderig luuks met ‘n onmiskenbare gevoel van gehalte. Die opsionele Orrefors kristalafwerking van die ratkierie spreek van klassieke opulensie.

Kopers kan hulle nuwe XC90 met ‘n ses of sewe sitplek kajuituitleg bestel, waar die 6-sitplek my gunsteling is omdat dit twee sitplekke in drie rye plaas wat prakties en ruimtegewys die gevoel skep dat jy in die kajuit van ‘n luukse privaatstraler sit.

Soos met die eerste XC90 maak Volvo in die 2019 model ook gebruik van 2.0-liter 4 silinder enjins vir die hele reeks modelle. Tans het kopers die keuse tussen drie petrol weergawes en een turbodiesel, weliswaar met verskillende kraguitsette. Die petrol reeks begin met die T5 (187 kW/350 Nm, met ‘n amptelike petrolverbruik van 7.6L/100 km), ‘n T6 (235 kW/400 Nm en 8.0 L/100 km) en die topmodel T8 “Twin Engine plug-in hybrid” wat krag put uit ‘n kombinasie van turboaanjaer, superaanjaer en elektriese motors vir ‘n gekombineerde maksimum krag van 300 kW (235 kW + 65 kWe) en 640 Nm (400 Nm + 240 Nm).

Die opgegradeerde D5 turbodiesel is my gunsteling model met heerlike lae toere wringkrag en goeie verrigting deur die toerestrek danksy 173 kW en 480 Nm wringkrag (teenoor die uitgaande model 165 kW en 470 Nm). Amptelike brandstofverbruik word aangegee as ‘n indrukwekkende 5.7 L/100 km. Aandrywing vir die al die modelle is na vier wiele deur ‘n seepgladde 8-spoed outomatiiese ratkas.

Artikel deur Dirk Gallowitz in Ultimate Drive Ed.56.

Previous articleToyota Sports 800
Next articleHyundai Tucson Sport
Johann van Tonder
Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies.