Lexus RC F-reeks

0
872

Luuks, én vinnig!

Luuks, én vinnig. Dit klink dalk vir die leser na ‘n normale stelling vir ‘n duur sportmotor, maar dit is nie. Die luukstes is gewoonlik nie die vinnigste nie, en die vinnigstes is gewoonlik nie die luukste nie. Luukses in ‘n motor vermeerder gewig en gewig is die vyand van spoed en dinamika.

Tog het Lexus dit reg gekry om twee vinnige weergawes van die Lexus RC-F plaaslik bekend te stel, terwyl die motors steeds besonder dinamies is. En tog nie, want die RC F-Sport Track Edition wys weer hoe groot verskil gewig werklik maak.

Die RC F maak sy verskyning met selfs nog meer dinamiese hantering, verfynde stilering, verbeterde lugdinamika en groter afwaartse druk – veral op die vooras –stewiger en ligter veringkomponente, fermer stuurbeheer, meer intuïtiewe transmissie en bande wat beter klou. Sjoe! Wat ‘n mondvol. Opgesom – hy is meer dinamies en vinniger. In die geval van die splinternuwe RC F Track, met sy doelontwerpte koolstofvesel toebehore, is die veranderings nog meer opvallend.

Die resultaat? Makliker hantering met verbeterde terugvoer van die bestuurder, wat dit makliker maak om deur ’n draai te ry terwyl die motor op spoed is, groter onderstelstabiliteit met vinnige rigtingveranderings, plus verbeterde stuur- en versnellerreaksie.

Dus is die aërodinamika, hantering en werkverrigting is aansienlik verbeter in die RC F en RC F Track Edition, maar sonder om enige luuksheid, verfyning of veiligheid in te boet. Lexus het ligte-gewig, hoë-sterkte onderdele aangewend om die swaartepunt te verlaag en die reaksie van die drywende krag te verskerp, terwyl die kajuit meer prakties en met ’n nog meer premium gevoel ontwerp is.

Die sirkelvormige dunfilm-transistor (TFT)-meter wat voor die bestuurder geplaas is, verander volgens die bestuurder se keuse met die moduskeuse-draaiknop. Die skerm wissel tussen ’n blou ekonomie-aanwyser in ECO, ’n standaard toereteller en digitale snelheidsmeter in NORMAL, ’n wit en rooi groepering in SPORT S en oranje in SPORT S + met driegang- opwaartse rigtuingwysers. Bestuurders kan ook wissel tussen eksklusiewe funksies soos ’n rondteteller en G-krag vertoning.

Daar is ‘n uitgebreide 10,3-duim-wyebeeldskerm met satellietnavigasie, digitale radio en Bluetooth®-telefoon- en audiostroom, wat stemherkenning insluit. Die Mark Levinson klankstelsel met 17-luidsprekers verseker verder dat die klankgehalte pas by ’n premium sportkoepee.

Die bestuurder se posisie is laag gestel vir ’n sportiewe gevoel, terwyl die toegang tot die agterste sitplekke vergemaklik word deur elektries verstelbare voorste sitplekke met ’n funksie wat dit met die druk van ’n knoppie, outomaties vorentoe laat gly en dan na die oorspronklike posisie laat terugkeer. Verwarmde en geventileerde sitplekke, sowel as ’n elektries verstelbare stuurkolom, is standaard vir voorste en passasiersitplekke op alle variante, behalwe die liggewig, renbaangerigte RC F Track Edition, wat slegs die funksies vir die voorste sitplekke het.

Lexus het die RC F en RC F Track toegerus met ’n hersiene 5-liter V8. Die enjin se maksimum krag van 351 kW word teen 7 100 r/min gelewer terwyl sy wringkragpiek van 530Nm tussen 4 800 r/min en 5 600 r/min ontwikkel word. Die uiters gesofistikeerde 2UR-GSE-petrolenjin is nou ligter en voldoen vir die eerste keer aan Euro-6-uitlaatvereistes. Meer as tien enjinkomponente is aangepas om gewig te verminder en dus die swaartepunt te verlaag. Die hersiene transmissie maak verder voorsiening vir die integrasie van ’n wegtrekbeheerstelsel wat die eerste keer sedert die geheiligde LFA-supermotor, in ’n Lexus gebruik word. ’n Stormlopie van 0-100 km/h neem net 4,5 sekondes vir die RC F en 4,3 sekondes vir die RC F Track.

Motorgeesdrigtiges glo 1 kg se gewig onder die veerstelsel is gelykstaande aan 10 kg in die motor. Lexus het met die RC F Track se ongeveerde gewig met ongeveer 25 kg verminder deur ligte allooiwiele en skyfremme van koolstofkeramiek te gebruik. Hierdie aansienlike gewigsbesparing verwyder die druk van die veringskomponente, wat die rygehalte aansienlik verbeter terwyl dit die hantering en beheer op rowwe padoppervlakke en knap renbane aansienlik verbeter.

Al die variante is toegerus met die hoogste vlak van veiligheidstegnologie, insluitend die Lexus Safety System+-veiligheidstelsel wat ’n reeks hulpmiddels insluit soos ’n voor-botsing (rem-gesinchroniseerde) veiligheidstelsel met voetganger-opsporing, standaard-aanpasbare spoedbeheer, baandwaal-waarskuwing met stuurhulp en ligdiode- outomatiese hoëligstraal. Blindekolmonitor, truratkamera, voorste ryhoogte en agterste parkeersensors en agterste dwarsverkeerswaarskuwing is ook standaard.

Die Lexus RC F kos R1 318 300. Die RC F Track kos R2 098 200. Albei voertuie is standaard beskikbaar met Lexus se waarborg van 7 jaar/105 000 km en volledige instandhoudingsplan.

Artikel: Johann van Tonder