LAND CRUISER PRADO

0
717

Nuwe Enjin, nuwe Toerusting.

Die Land Cruiser naamplaat het homself gevestig as ‘n duursame, vermoeënde en bekwame veldryer. Dis veral die Prado-reeks wat gewild is in die Land Cruiser stal en die model-reeks is onlangs opgeknap om dit weer in lyn te bring met wat mens van ‘n moderne voertuig verwag. Puriste sou dalk meen dat daar nie aan ‘n wenresep gepeuter moet word nie, maar die veranderings is soos die spreekwoordelike kersie op die koek.

Die kern van die hersiene reeks is ’n bykomende 30 kW en 100 Nm meer wringkrag wat verkry word deur die oorskakeling na die nuutste weergawe van Toyota se GD-6-turbodieselenjin van 2,8 liter, wat nou uitsluitlik aan ’n outomatiese sesgangratkas (voorheen vyfgang) gekoppel is. Die Prado se veldry- en sleepvermoë trek voordeel uit die enjin met sy hoër werkverrigting, wat nou ’n stewige 150 kW @ 3 400 r/min en 500 Nm oor ’n breër toerestrek (1 600 tot 2 800 r/min) bied.

Die jongste 2,8 ℓ-GD-6-enjin (wat sy buiging in die opgedateerde Hilux gemaak het) het ’n groot aantal opgraderings ontvang, waaronder ’n nuwe turbo-aanjaer met ’n groter turbine en rotor, en verbeterde enjinstyfheid en verkoeling. Die nuwe sesgang-transmissie het hersiene sluitingsprogrammering vir die koppelaar, wat gladde, dog stewige ratwisseling en nuwe ratwisselpedale wat bygevoeg is, bied. ’n Laestrek-oordragratkas maak korte mette met veldrywerk, terwyl die ewenaarslotte (middel en agter) wat deur die bestuurder gekies kan word wanneer die voertuig op gladde oppervlakke ry.

Die 4,0 ℓ-petrolenjin bly onveranderd (ook aan ’n outomatiese sesgang-ratkas gekoppel). Die enjin se maksimum kraglewering is 202 kW teen 5 600 r/min, met ’n wringkragpiek van 381 Nm wat teen 4 400 r/min gelewer word.

Ondanks die aansienlik beter verrigting, verbeter die Prado se brandstofverbruik tot 7,9 liter/100 km en sy CO2-uilate tot 209 g/km. Die brandstoftenkinhoud is 150 liter met ’n hooftenk van 87 liter en reserwetenk van 63 liter. Die maksimum sleepvermoë vir ’n sleepwa met remme vir die 2,8-modelle word tot 3 000 kg verhoog.

n Nuwegeslag-multimediastelsel word regdeur die reeks aangetref, wat nou ’n groter 9”- raakskerm (vorige was 8”) sowel as verbeterde stemherkenning en Apple CarPlay en Android Auto het. Pasasiers kan selfoondienste soos Google Maps, Waze, Spotify ensovoorts gebruik om hul ry-ervaring te verbeter. ’n Ingeboude satellietnavigasiestelsel vul die slimfoonwerking aan, wat veral handig is wanneer die voertuig buite bereik van ’n selfoonsein is.

Daar is drie spesifikasievlakke beskikbaar: TX, VX en VX-L. Die TX-weergawes is goed toegerus met outomatiese tweesone-klimaatbeheer, ’n 6-luidspreker-klankstelsel, elektries verstelbare bestuurdersitplek, verligte toegang, spoedbeheer, parkeerafstandbeheer, sleutellose toegang, outomatiese deursluiting, drie kragsokke, Bluetooth-verbinding, USB-sokke, derderysitplekke en ’n trurat-kamera. Verhitte sitplekke en sitplekventilasie word vir die insittendes in die voorste ry voorsien, terwyl dié in die tweede ry ook voordeel van verhitte sitplekke geniet. Die verkoelde middelkonsole maak ligte werk van lang ritte of bosvelduitstappies.

Die VX-modelle versterk die gemak- en geriefspesifikasie met geheueknoppies vir die bestuurdersitplek, ’n vooraanstaande klankstelsel met 14 luidsprekers en ’n diepbasluidspreker, multi-inligtingskerm, elektries verstelbare kantel en teleskopiese stuurkolom, reënsensors vir die ruitveërs en elektriese wegvouwerking vir die derde ry sitplekke.

Die vlagskip-VX-L-weergawes het Toyota Safety Sense (TSS), wat botsvoorkoming (PCS), aanpasbare spoedbeheer (ACC), blindekolmonitering (BSM), baandwaalwaarskuwing (LDA) en agter-dwarsverkeerwaarskuwing (RCTA) insluit. Daarbenewens bied die outomatiese hoëstraalwerking (AHB) beter sig danksy ligdiode-kopligte wanneer dit geaktiveer is. ’n Elektries beheerde kantel- en skuifbare glasdak rond die VX-L-pakket af.

Al die Prado-modelle pronk met Toyota se aktiewe kloubeheer (A-TRAC), wat wielglip aktief beheer deur wringkrag na die wiel met die meeste trekkrag te stuur. Die stelsel kan individuele remdruk op die wiele toepas om trekkrag tot die maksimum te verbeter. Opdraande-wegtrekbeheer (HAC) is deel van die standaard-pakket.

Die terreinstelsel (MTS; slegs vir die VX en VX-L), wat deur middel van ’n draaiknop in die middelkonsole beheer word, stel die bestuurder in staat om die regte modus te kies, afhangende van die “pad” wat voorlê. Die stelsel het vyf vooraf ingestelde modusse (vir modder en sand, los gruis, hobbelrige gladde oppervlakke, klippies en grond sowel as groter klippe) om die Prado se vastrapbeheer-, transmissie-, kraglewering- en veringinstellings op die terrein te pas. Afdraandebeheer (DAC) en kruipbeheer is by die VX- en VX-L-modelle ingesluit.

Die insluiting van “Drive Mode Select” vir die 2.8 VX- en VX-L-weergawes is nuut vir 2020 (reeds standaard in die V6), wat vyf modusse bied – Comfort, Sport, Sport +, Normal and Eco – ten einde voertuigdinamika na gelang van die bestuurder se voorkeur aan te pas.

Al die Land Cruiser Prado-weergawes maak gebruik van ’n stewige romp-op-raam-konstruksie, wat bewys dat dit die beste sterkte en wielartikulasie bied – met ’n dubbelmikveerontwerp voor en multiskakelvering agter. Die TX-modelle gebruik gewone staalvere en dempers, terwyl die VX- en VX-L-weergawes met Toyota se kineties dinamiese vering (KDSS) pronk.

KDSS gebruik ’n hidrouliese stelsel, wat aan die swaaiarms gekoppel is, om al vier wiele doeltreffend te verbind en sodoende romprol te verminder en wielartikulasie te verbeter. Die KDSS-stelsel bied dus die beste van al twee wêrelde – uitstekende romprolbeheer vir padrywerk, terwyl die swaaiarms vir veldrywerk ontkoppel kan word ten einde wielartikulasie en klouvermoë te verbeter.

Daarbenewens maak die VX- en VX-L-modelle ook gebruik van Toyota se aanpasbare veranderlike vering (AVS) om verstelbaarheid van die skokdempervlak moontlik te maak. Dit is aan die Drive Mode Select-werking gekoppel.

Modelreeks en pryse

Prado 2.8L Diesel TX – R 939 900

Prado 4.0L Petrol VX – R 1 029 000

Prado 2.8L Diesel VX – R 1 060 600

Prado 4.0L Petrol VX-L – R 1 072 600

Prado 2.8L Diesel VX-L – R 1 105 800

Al die Prado-modelle word met ’n diensplan vir nege dienste of 90 000 km met 10 000 km-versieningstussenposes verkoop. Die reeks word ook deur ’n driejaar-/100 000 km waarborg gedek.