Karoo toe! Op ‘n SYM CROX 125

0
1261

Avontuur motorfietse is al by die twee dekades die in ding as dit by motorfietse kom. Die bekoring van die grondpad, poorte, passe, avontuur wat wag! Mens kry dan ook twee soorte “avonturiers”. Jy kry die ploert wat op die bank sit en vertel hoe, as hy eendag die R300 000 motorfiets met padbystand, beste toerusting en klere het, hy fantastiese avonture gaan beleef. Hierdie avonture sal dan ook meer mal as anders net rusbank-drome bly. Dan kry jy die regte avonturiers, die manne wat nie wag tot hulle eendag als (en net van die beste) het voor hy moontlik sy avontuur aanpak nie, nee. Die ouens pak die avontuur aan, nou, met wat hy het.

 

 

 

Christo Serfontein het so avonturiers-hart. En dis nie asof hy nie van beter weet nie. Christo is die voormalige eienaar van ‘n 800GS, asook ‘n 1200GS. Maar toe die pad weer begin roep en al wat in sy Mosselbaai se motorhuis staan is ‘n SYM CROX 125 met die bynaam “Tuffy”, was die toer aan.

 

Die SYM CROX herhinder nogal aan die Yamaha BWS. Dis so amper ‘n “crossover” skoeter met lekker vet bandjies, Hy is lig, maklik om te ry en boonop lekker ekonomies, so die begroting is nie so groot struikelblok tot avontuur soos met die groot fietse nie. Christo het die fiets gepak en gery. Karoo toe. Klein Karoo, Groot Karoo, Loxton verby. Draai gegooi deur die Moordenaars Karoo, nuwe vriende gemaak in Merweville en terug gekeer oor die asemrowende Swartberg pas. 4 dae en 1140km later, toe stop Christo weer by die huis, tevrede.

Volgens Christo het die SYM CROX die pad besonder goed gehanteer. Jy pas net jou ry-styl en spoed aan by die fiets en die toestande. En omdat jy rustiger ry, is jy nie haastig nie, rus beter en sien meer. Ook, omdat die fiets so lig is (112kg) en die op- en afklim so maklik, stop jy makliker om die omgewing te verken of om ‘n foto te neem. Dis nie ‘n geklouter en gesukkel met ‘n swaar fiets nie.

Die SYM draf gemiddeld so 80km/h op ‘n goeie grondpad en anderkant 100km/h op teer, maar dit was nie die punt nie. Hierdie was ‘n reis. Die enigste nadele wat Christo ondervind het was die klein brandstof tenk van 5L, maar dan het die SYM met 140kg (bagasie en ryer) op sy rug steeds 25km/L gekry. Dus het die 5L wat Christo ekstra saam gery het gesorg vir ‘n totale reikafstand van by die 250km. Die ander probleem was dat Christo elke keer die bagasie moes aflaai om by die tenk onder die sitplek uit te kom, maar dan, hoeveel bagasie kan daar nou op ‘n soeter wees?

Omstanders se reaksie tot ‘n reisiger op ‘n skoeter is een van verbasing, maar altyd vriendelik, vol vrae en die ontvangs sonder uitsondering positief. Christo se ervaring op die skoeter was een van vryheid en die belangstelling in sy avontuur het alle reise op “gewone” motorfietse totaal oortref.

Met ‘n skoeter wat R17 995 “uit die boks” kos en slegs 25km/L verbruik, het niemand meer verskoning dat ‘n avontuur ‘n motorfiets van R300 000 verg nie. Hierdie “Tuffy” gaan dit nog oor en oor bewys.

Gee my spoed, Sakkie!

Die veelsydige SYM CROX 125 is nie net ‘n ideale pendel fiets of klein avontuur fiets met ‘n groot hart nie, nee. Thundercycles in George het ook ander groot planne vir die CROX. Charl Joubert het ‘n SYM Crox van die vloer gehaal en na die werkswinkel geneem. In ‘n projek wat herhinder aan die ou skooldae toe ons nog ons 50cc motorfietse “warm” gemaak het, kry hierdie skoeter ‘n ander uitlaat en daar word gepeuter met die lugfilter en vergasser, want sien, hierdie SYM CROX word voorberei vir skoeter resies! Hier is ‘n nuwe ding wat kop uit steek in George. In ‘n volgende uitgawe vertel ons meer!

SYM? Wie?

SYM staan vir Sanyang Motor Co., Ltd. Die maatskappy is reeds in 1954 in Taiwan gestig en vervaardig motorfietse, skoeters en vierwielers onder die SYM naam, terwyl hy motors bou vir Hyundai en ander voertuie vir Bombardier, Mahindra en International Trucks. SYM het al meer as 16 miljoen motorfietse en 800 000 motors gebou. SYM se uitset tans is 600 000 motorfietse en 20 000 motors per jaar, met ‘n omset van meer as ‘n Miljard Dollar.

Artikel: Johann van Tonder; Fotos: Christo Serfontein