In-plug Bug!

0
306

Die Meyers Manx Duinebesie herleef.

Vir die eerste keer in vyftig jaar bring Meyer Manx weer ‘n nuwe voertuig uit. Die ikoniese “Beach Buggy” van die Sestigs keer terug as die Meyers Manx 2.0, die keer ‘n vol elektriese voertuig.

Die oorspronklike Duinebesies was gebou op die onderstel van ‘n VW Kewer en was uiters gewild in die jare Sestig. Die maatskappy het ongelukkig gevou in 1971, maar die oorspronklike eienaar het dit terug gekoop in 1999 en dit toe meer onlangs in 2020 weer herverkoop aan Trousdale, ‘n waagkapitaal-firma in Kalifornië.

Die nuwe Meyers Manx 2.0 prototipe is pas bekend gestel en anders as die ID Buggy wat Volkswagen self gebou het, is die Meyers Manx 2.0 bestem vir vol produksie. Die nuwe voertuig word nie op die onderstel van ‘n ander voertuig gebou nie, maar is ‘n voertuig in eie reg, ontwerp deur Freeman Thomas wat ook die Audi TT en nuwe VW Beetle ontwerp het.

Daar is tans twee battery opsies, 20kWh en 40kWh, met ‘n reikafstand van tussen 240 en 500km. Die syfer klink optimisties, maar as mens in ag neem dat die twee modelle onderskeidelik slegs 680kg en 750kg weeg, kan mens dink dat dit dalk moontlik mag wees. Die Meyers Manx 2.0 word aangedryf deur twee elektriese motors agter en die 40kWH weergawe kan versnel van 0 tot 100km/h in 4,5 sekondes!

Daar is geen deure of ruite nie en die dak kan af, maar hy sal dan by die huis gelos moet word. Daar is ‘n bagasie ruim agter, maar soos die voertuig kan dit nie sluit nie. Daar is ook ‘n bagasie ruim voor wat die spaarwiel en enkele gereedskap huisves.

Soos met die eerste prototipe Duinebesies van die jare Sestig, gaan 50 eenhede gebou word in 2023 en aan mense uitgegee word vir navorsing in regte-wêreld toestande. Produksie sal dan begin in 2024. Daar is nog nie aanduiding van pryse nie, maar dis ‘n klein voertuig met ‘n klein battery, so hopelik sal dit redelik bekostigbaar wees sover dit elektriese voertuie aangaan. Dis onbekend of die Meyers Manx 2.0 buite Kalifornië beskikbaar sal wees.