Honda Transalp – Bekostigbare avontuur!

0
559

Die afgelope jare het ‘n ontploffing in die dubbeldoel motorfiets mark gesien. Oor naweke sien jy hulle ry, die manne op die groot motorfietse vol stof, op pad na ‘n nuwe horison, ‘n nuwe avontuur.

Ons bly in ‘n pragtige land wat net wag om verken te word, maar hoe gemaak as jy nie ‘n tweede verband op jou huis wil neem om een van die R300 000 ysterperde te koop nie? Alles is nie verlore nie, daar is wel maniere om hierdie avontuur-leefstyl te betree – teen ‘n fraksie van die prys.

Honda se Transalp is jare reeds ‘n bekende gesig op ons paaie. Honda het die Transalp in 1987 reeds bekend gestel. Die eerste prototipe in 1985 was ‘n 500cc veldfiets, maar teen die tyd wat die eerste modelle die teer getref het was die Transalp ‘n padwaardige veeldoeler. Oor die jare is daar aan die model bietjie verander en verbeter, drom brieke het plek gemaak vir skyf remme, maar dis basies dieselfde enjin wat van die eerste 600cc modelle tot die latere 700cc modelle diens doen. Dis ‘n betroubare en beproefde enjin en daar is verskeie voorbeelde van Transalps met meer as 100 000 probleemvrye kilometers. Ek persoonlik het ‘n TransAlp met 160 000km op die klok gesien.

Die Transalp staan uit as ‘n veelsydige dubbeldoeler juis omdat hy tuis is in soveel toepassings, of dit nou stofpad-toer, ontbytritte of stadspendel is. Die V-twee silinder enjin loop seepglad in vergelyking met die meer gefokusde een-silinder verlfietse en die Transalp skrik ook nie om ‘n passasier op te laai nie. As middelgewig toerfiets is die Transalp ‘n mylvreter van formaat. ‘n Top snelheid van by die 180km/h beteken dat jy nie sukkel om verby te steek nie en boonop is die fiets met sy regop sitposisie en sagte saal besonder gemaklik op die langer ritte.

Die XL650V model Transalp was verkoop tussen 2000 en 2008, waarna dit vervang is deur die XL700V. Die nuwer 700 het gekom met petrol inspuiting en ABS remme. Hy was ook bietjie vinniger en ligter op brandstof. Die 650 se 21-duim voorwiel het egter plek gemaak vir ‘n 19-dium, so as jy regtig rowwe terrein aanpak is daar ‘n saak te maak vir die 650 model, maar in wese is die fietse dieselfde betroubare pakket.

Die groot TransAlp trekpleister is egter die prys. Hierdie betroubare fietse kan vir ‘n winskoop opgetel word. Verwag om so rondom R40 000 te betaal vir ‘n 650 Transalp en ongeveer R50 000 vir ‘n 700 model. Daar is pryse so laag as R30 000 as die fiets hoë kilometers begin kry, terwyl lae kilometer modelle jou tot R60 000 uit die sak kan jaag. In baie gevalle kry jy nog ‘n hoop bybehore op die koop toe. ‘n Absolute winskoop in ag genome dat selfs klein kapasiteit motorfietse deesdae by die R100 000 kos!

Jy kan dus die avontuur-fiets leefstyl toetree op ‘n beproefde motorfiets teen ‘n baie billike prys en as jy moontlik later die fiets wil verkoop behoort jy ook nie veel te verloor nie. Dis mos nou ‘n winskoop. Jou droom om die land se stofpaaie plat te ry op ‘n ysterperd is dalk nie so ver buite bereik as wat jy gedink het nie.