Honda Africa Twin – ‘n Langtermyn ervaring.

0
685

Om ‘n legende te laat herleef is nie maklik nie. Die dag wat Michael Schumacher se seun, Mick, op die wegspring streep in ‘n Formule 1 motor sit sal hy nie kan voorgee dat die van op die kant van sy motor niks beteken nie. Die verwagting wat so ‘n legendariese naam dra is hoog. In die motorfiets wêreld is dit die geval met die naam Honda Africa Twin.

Die Africa Twin het nie teleurgestel nie. Die legendariese Africa Twin is inderdaad hergebore in 2016 in die Honda CRF1000 Africa Twin. Verkoopsyfers sedert die bekendstelling staaf die mening. Hierdie fiets stel ‘n standaard in die segment. Toe Honda dus aankondig dat hulle, vier jaar later, ‘n CRF1100 Africa Twin gaan uitbring was die vraag onwillekeurig, wat en hoeveel kan mens tog nou verbeter? Ekstra krag is altyd welkom, maar as jy dink die fiets is net ‘n Africa Twin met 100cc meer, is jy vêr verkeerd. Die CRF1100 is basies ‘n geheel nuwe fiets, totaal herontwerp. Joernaliste was dit eweneens, hierdie was nog ‘n kwantum sprong vorentoe vir die Africa Twin.

Ons tyd op die fiets tydens die bekendstelling op Gyrotech was egter beperk, so om en by drie ure, waartydens ons die Twin deur sy passies kon sit op ‘n dinamiese hantering renbaan, die oop snelweg, grondpaaie asook enkelspoor bospaadjies. Veral in die tegniese terrein het die DCT-outokas net weereens gewys dat Honda, die enigste fabrikaat met hierdie tegnologie, ‘n stap voor die res van die mark is vir ouens wat hou van tegnies ry.

Joernaliste kan egter net soveel doen. Hulle kan vertel wat is nuut, was is beter, hoeveel modelle is daar, daardie tipe ding. Maar die eienaars-ervaring is iets heel anders en iets waaroor joernaliste nie kan berig, tensy hulle ‘n voertuig oor ‘n lang tydperk ry en onderhou nie. En selfs dan is die rapportering beperk.

Ons het nou ‘n splinternuwe Honda CRF1100 DCT gekoop. Die eerste 1000km is reeds afgelê en die motorfiets sal die onderwerp wees van ‘n langtermyn verslag. Wat jy te wagte kan wees as jy ‘n Honda Africa Twin koop.

Die eerste paar dae na ontvangs is die wittebrood tyd. Elke rit is ‘n vlinders-in-jou-maag ervaring. Jy leer al die nuwe funksies ken (en daar is baie) en hoe om vinnig tussen hulle te verstel. Daar is ryers wat al die funksies op die verstek verstellings los, maar ek wil nuwe eienaars aanmoedig om al die funksies te probeer (al moet jy, soos ek, op YouTube kyk hoe om daarby uit te kom) want dit sorg vir ‘n soveel beter ry-ervaring. YouTube is ‘n wonderlike hulpmiddel in die verband, want die eienaarshandleiding stel dinge nie juis eenvoudig nie.

Na ‘n week of so begin kyk jy na die “tekortkominge” van jou nuwe aankoop. Jy weet, daardie “probleme” wat aangespreek moet word deur die duisende bykomstighede beskikbaar vir jou fiets en waarsonder jy net nie kan klaar kom nie! (Ja, right).

Ons eerste bykomstigheid wat aangekoop moes word is bêreplek vir ons bagasie. ‘n Sluitbare alluminium boks agterop wat ook kan dien as ruglening vir die passasier. En dis hier waar ons, ons eerste skok gekry het. Iets wat ‘n joernalis op ‘n media bekendstelling nie kon weet nie.

Die Africa Twin Adventure Sport is ingerig vir toer. Die gewone Africa Twin, wat ons gekoop het, kom nie standaard met die rak agter waarop die alluminium boks gemonteer moet word nie. Hierdie rak, nét die rak, nie die plaat wat op die rak vasgeskroef word waarop die boks monteer nie, net die metaal arms waarop die plaat moet vasbout, kos amper R10 000 ekstra! Sak en as. Dit is omtrent ons hele begroting vir die boks en alles. En omdat die fiets so nuut is, is daar nog nie ander opsies as die regte Honda parte beskikbaar nie. Of so het ons gedink.

Na ‘n paar dae se navorsing kom ons af op ‘n produk van Kappa. Hulle het so raam beskikbaar, spesifiek vir die CRF1100 Africa Twin, vir om en by ‘n vyfde van die prys. Die invoerder is in Kaapstad (www.advrider.co.za), die produk het pas in die land aangekom en word nou versprei onder motorfiets handelaars. Ons het die produk gekoop en geïnstalleer. Die raam kom met al die nodige skroefies en instruksies en is maklik om te installeer. Die swart kleur pas perfek by die swart motorfiets en dit lyk of die fiets so uit die fabriek uit kom.

Met die gelukskoot kon ons die raam, die basis-plaat waarop die boks monteer en selfs ‘n alluminium boks koop, alles binne ons begroting van R10 000. Ons het ook sagte bagasie, wat bo-op die boks monteer, bygekoop.

Met die bagasie probleem opgelos het die eerste 1000km verby gevlieg en was dit tyd vir die eerste diens. Meer oor die eerste diens, kostes daaraan verbonde en die sagte bagasie in ‘n toekomstige artikel.

Intussen sal ons bike ry! In belang van die leser. Natuurlik.