Die Suid-Kaap Oumotorklub Erfenistoer 2019

0
983

Die Suid-Kaap Oumotorklub se jaarlikse Erfenistoer, trots ondersteun deur ReCollection Rides, vind vanjaar van 20 tot 24 September plaas. Die SKOMK sluit George, Mosselbaai en Oudtshoorn in, maar het lede en verteenwoordigers so ver as Beaufort-Wes en Victoria Wes.

Vir die oumotor-entoesias is die Suid-Kaap die ideale  omgewing – ‘n ware tuiste vir die oues waaraan jy so hard gewerk het.

Die SKOMK is ook die tuiste en aanbieder van die gewilde George Oumotorskou.

Die toer val saam met Erfenisdag op 24 September, asook Toerismemaand en die Midlands Oumotorskou in die Oos-Kaapse dorp Graaff Reinet.

Gerhard en sy vrou Fienie Hoepfner sal die toer meemaak in hul Chevrolet.

Die groep voertuie spring Vrydag 20 September weg vanaf Halfway Toyota by die Garden Route Mall, waar hulle ook vooraf besigtig kan word.

Die roete kronkel deur die bekoorlike Karoo-dorpies Uniondale, Willowmore en Aberdeen na die historiese dorp van Graaff Reinet.

Saterdag 21 September gaan die besondere voertuie een van die hoogtepunte van die Midlands-oumotorskou gehou in samewerking met die tweejaarlikse Collector’s Fair op die Laer Volkskool sportvelde.

Die volgende dag besoek die toer die oulike dorpie Nieu-Bethesda, bekend vir die Uilhuis, Hier het die eksentrieke Helen Martins, haar huis omskep in ‘n eklektiese mengsel van mure wat met gemaalde glas gepleister is en ander fassinerende dekor versier is. Haar tuin bevat meer as 300 standbeelde, wat ondermeer uile, kamele, piramides, poue en mense insluit.

Maandag 23 September vertrek hulle na Jeffreysbaai, waar die toer op ‘n hoë noot tydens ‘n gala-geleentheid afgesluit word.

Die groep keer Dinsdag 24 September terug na George.

Die Erfenietoer is een van die hoogtepunte op die George Oumotorklub se aktiwiteitskalender. “Ons neem graag deel, want dit gee ons geleentheid om die erfenisgoed wat vir ons kosbaar is, met ander te  deel,” sê Pierre Olivier, die voorsitter van die reëlingskomitee.

Besoek die Erfenistoer-webblad op die webblad van die Suid-Kaap Oumotorskou www.SCOCC.co.za en klik op Heritage Tour.

Artikel: Mimi Finestone

Oorspronklike artikel vanuit Ultimate Drive Ed.56