Die Storie voor Supra

0
896

Toe Robert Daniels se artikel oor die Toyota Sports 800 in ons inboks beland, was die nuuskierigheid oor die motor onmiddelik geprikkel. Met bietjie navorsing het ons nog veel meer ontdek as wat ons verwag het – wat ‘n lekker storie!

As dit by Toyota en sportmotors kom, staan een naam soos ‘n paal bo water. Supra. Maar lank voor die Supra selfs nog ‘n idee was, het die Toyota Sports 800 Toyota se naam in die motorsport wêreld op die kaart gesit. Hierdie was die Toyota wat die eerste Suzuka 500km ren in 1966 gewen het.

Alhoewel die Sport 800 minder krag as sy teenstaanders gehad het (slegs 70hp), was die kombinasie van aërodinamiese ontwerp, brandstof doeltreffendheid en ligte gewig ‘n wen formule. Teenstaanders soos die Skyline GT, Lotus Elan, Datsun Fairlady, en Honda S600 moes almal tydens die ren die kuipe besoek om brandstof aan te vul terwyl die klein Toyota Sport 800 die hele ren kon voltooi. Aan die einde van die resies was daar nog 30% brandstof oor.

Die klein David het verskeie Goliate verslaan!

Een van hierdie Sport 800 motors is onlangs in ‘n waenhuis ontdek. Die motor was is ‘n baie slegte toestand en verlate. Nadere ondersoek het egter gewys dat hierdie nie ‘n “Yotahachi”, of siviele weergawe van die Sport 800 was nie. Hierdie was motor Nr.7. Die spesifieke motor wat die Suzuka 500km ren gewen het!

Na dié ontdekking het Gazoo Racing onderneem om die spesiale motor te restoureer. Die motor was in ‘n baie slegte toestand en amper die helfte van die bakwerk moes herbou word. In die proses is dinge soos die hegpunte vir die vering versterk en die binneruim veral het spesiale aandag gedurende die restourasie proses geniet. Laastens is die motor uitgedos in Gazoo Racing kleure.

Die eind produk is die eerste renmotor van ouds, terug in die motorsport span van die hede. Lank lewe die Toyota Sport 800 – die Adam van Toyota Motorsport!

Artikel deur Johann van Tonder het verskyn in Ultimate Drive Ed.56. Fotos: Motorauthority.com