Die dinge wat jou keer.

0
315

5 km voor die Waterval-Boven tonnel, rigting Pretoria, is daar ’n plek genaamd Kruger Hof. Ek het al soveel keer daar verby gery, maar vandag het ek gestop. Voor ’n plekkie met die naam The Tickled Trout het Desmond gestaan, besig om gietwerk te doen. Ek vra hom of hy koffie het. Hy het, maar nie ’n kaartmasjien nie. Alles in die haak. Toe ek instap, sien ek pragtige skilderye en verskeie kunswerke, maar my oog vang dadelik ’n pragtige model skip. Ek vra hom uit daarna, en toe begin Desmond se storie.

Die betrokke model kom van Mauritius af toe hy daar gewerk het in die laat 80’s. Hy het ’n boot gekoop in Frankryk en daar tussen die eilande rond geseil. Hy het ook in die Karibiese eilande en die Rooi see geseil. In die Seychelles het hy gesukkel om werk te kry en is toe Mauritius toe. Daar het hy daagliks mense uitgevat en mense het hom beny vir sy sorgvrye lewe. Maar as hy vir hulle sê om dit ook te kom doen, dan kom die verskonings en die dinge wat hulle verhoed om daardie lewe te lewe. Die kar, die huis, die werk. Desmond het gelewe. Voluit.

Nou, baie jare later het hy sy klein winkeltjie wat hy deel met sy kolliehond, Jessie. Jessie wil net bal speel. Terwyl ek my tweede koppie koffie drink, stap daar ’n man in met ’n bierblikkie. Sy vrou het vir hom die verkeerde bier gekoop, en hy vra vir Desmond of hy dit mag omruil. Desmond sê vir die man dat die drankie wat hy nou vat, goedkoper is as die een wat sy vrou gekoop het, en dat hy vir hom krediet sal gee. Die boekie kom uit met die man se aankope in. Ek onthou “Die boekie”. Jy koop op skuld, en betaal as jy betaling kry.

Ek sal graag weer vir Desmond wil gaan kuier, want ek dink hy het soveel stories in hom wat nog moet uit. Maar ek moet jaag. Na my kar, my huis en my werk.

Artikel:Brian Cheyne