BMW K1600 GT

0
244

Maar is dit nog ‘n motorfiets?” Dis tong in die kies gevra, maar tog ‘n vraag met meriete. Die nuwe BMW K1600 GTL is groot en bied inderdaad amper al die luukses wat ‘n motor bied, plus ‘n heelwat groter sondak! Met twee ekstra wiele kon die motorfiets dalk selfs deurgaan as ‘n afdak 3-Reeks.

Die BMW K1600-modelreeks is BMW se vlagskip toerfietse. Vier modelle is beskikbaar, die GT met sytasse, die GTL wat ‘n top-boks byvoeg, die “B” vir Bagger, ook met sytasse maar meer in die Ameriaanse styl en laastens die Grand America. Daar is ander klein verskille. Die GT is byvoorbeeld meer dinamies, terwyl die GTL toer-gefokus is, maar grotendeels deel die modelle dieselfde resep. Ons toetsmodel was die K1600 GT. Die motorfiets ontwerp en gebou om die ryer, dis die afleiding wat mens maak na jy vinnig 500km kaf gedraf het. Die ryer sit in eerste klas heerlik regop op ‘n gemaklike, sagte sitplek, sonder windgeraas of ongemak en kyk hoe die wêreld moeiteloos verby gly.

Die BMW K1600-reeks word aangedryf deur ‘n massiewe inlyn-ses enjin. Die ses silinders, wat voldoen aan EU5-staandaarde, stoot ‘n tamaai 118 kW en 180 Nm uit. Dis dus nie moeilik om jou in die verkeer te bevind omring deur motors met kleiner enjins wat minder krag lewer nie. Waarskynlik minder luuks ook, want die BMW bied als van handvatsel en sitplek verwarmers, GPS navigasie, radio met luidsprekers (hard genoeg om in jou valhelm te kan hoor) en Bluetooth koppeling vir valhelms met die opsie, sodat jy alleen na die musiek kan luister, jou foon kan antwoord en moeiteloos met jou passasier kan praat. Daarby is daar ‘n rits modusse waarmee jy die karakter van werkverrigting kan stel van baie sportief tot baie gemaklik. Terloops, selfs die vering kan gestel word, sommer so in die ry. Voeg daarby ‘n ritrekenaar wat alles en nog wat uitwerk, van brandstof verbruik, tot gemiddelde spoed en oorblywende reikwydte. Al die inligting is op die punte van jou vingers met besonders gebruikervriendelike skakelaar en ‘n rol-muis op die handvatsel by jou linkerhand, jy hoef dus nooit jou hande van die handvatsel te verwyder om al die funksies te gebruik nie. Daar is selfs ‘n trurat, nes ‘n motor, want teen 350kg is die monster van ‘n motorfiets nogal ‘n handvol om uit ‘n parkering te maneuver.

Die beste eienskap is egter dat dit nie ‘n motor is nie. Al bied die K1600 GTL jou al die luukses van ‘n motor, bly dit ‘n motorfiets en ‘n ratse een daarby. Die fiets lyk groot en is swaar, maar as die wiele eers begin rol verdwyn die gewig en voel die fiets so vlugvoetig soos ‘n prima ballerina. Daar is hope krag en op die lang pad kan jy op rat na sesde, die spoed beheer aanskakel en letterlik op golwe van wring kyk hoe die dorpe verby gly. Ry jy deur ‘n pas kan jy die fiets bietjie rondgooi in laer ratte, maar wees versigtig, want 118 kW op ‘n motorfiets beteken dat die krag tot gewig verhouding massief is. Jy kan anderkant 200 km/h gaan kuier reeds in vierde rat, so vyfde en veral sesde rat is lang ratte, perfek om die lang pad teen lae toere aan te vat. En die GT doen dit moeiteloos want 70% van die 180Nm wringkrag is reeds vanaf 1500 toere beskikbaar.

Tydens ons evaluasie tydperk het ons verbruiksyfers van tussen 5 en 6 liter per 100km gesien. Dit beteken dat die 26,5L brandstof tenk ‘n reikwydte van meer as 400km bied, mits jy nie té entoesiasties ry nie. So, laai daai tasse, laai jou passasier en gaan verken ons pragtige land. Hierdie is naby aan die top punt van ‘n toer ervaring. In ‘n motor kyk jy deur ‘n raam na die buite wêreld wat soos ‘n fliek verbygaan. Op ‘n motorfiets voel jy soos die ster in daai fliek.

Die BMW K1600-modelreeks se pryse is as volg:

K 1600 GT

vanaf R353,300

K 1600 GTL

vanaf R361,950

K 1600 B

vanaf R400,400

K 1600 Grand America

vanaf R463,500

 

Previous article‘n Veiling Ervaring.
Next articleIn-plug Bug!
Johann van Tonder
Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies.