Bloudruk vir Leierskap.

0
825

deur Ds Floors Meyer

‘n Bloudruk is ‘n afskrif van die oorspronklike argiteksplan.  As jy derhalwe wil weet hoe werk leierskap, gaan kyk weer ‘n skoot na die argiteksplan.
Ons het laas week die ongekende drama beleef toe ‘n persoon, wat die hoogste gesag in ons land beklee het, deur die hoogste hof in ons land tronk toe gestuur is.  Sover ek kan onthou is dit die eerste keer in ons geskiedenis wat dit gebeur.  Soos die Engelsman sê: Never a dull moment!  Dit is inderdaad ‘n oorwinning vir die politas – die inwoners van die stad. 

Daar is egter politieke kommentators wat reken dat ons nie die vreugdevure te hoog moet laat brand nie.  Want die Konstitusionele Hof se uitspraak teen Mnr Zuma sê absoluut niks oor die ongekende korrupsie tydens die Ramaphosa era nie.  Dit sê niks oor grondonteiening sonder vergoeding tydens die Ramaphosa era nie.  En mens sou nog sulke voorbeelde kan opnoem.  Hoe ookal, daar sal in hierdie land nie tyd wees om vervelig te raak nie. 
Teen die agtergrond van hierdie dekor wat vir ons opgehang word, is ek daarvan oortuig dat ons vir hierdie plek en tyd in die geskiedenis twee dinge dringend nodig het.
  
1.     Die eerste ding wat ons nou nodig het, is ‘n goeie teologiese politiek.  Teologiese politiek beteken dat ons ons kennis van wie God is en waarmee Hy besig is, toepas vir die lewe van die inwoners van die land.  Genesis 1 praat helder daaroor.  As verteenwoordigers van God is dit ons roeping om ‘n tuin te bou waarin dit vir almal goed sal wees om in te lewe.  Genesis praat van hierdie droom van God as die Tuin van Eden. Later verwys Jesus self daarna as die Paradys.  Jy sien, Bybelse politiek behoort hom deurgaans besig te hou met die vraag: wat is die ideale omstandighede wat die stad goed maak vir die inwoners om in te lewe?  Dit is die teologie van politiek.  Maar daarvoor het ons in hierdie land nou leiers nodig. 
 
2.     Die tweede ding wat ons derhalwe nou broodnodig het, is ‘n teologie van leierskap.  Hoe lyk die bloudruk vir leierskap?  Wat is die oorspronklike plan?
Kom ons kry eers die definisie reg van wat ons met ‘n teologie van leierskap bedoel.  Die woord “teologie”  beteken letterlik: kennis van God.  Nou wat weet ons van God af?  Wie is Hy?  Hoe stel Hy homself aan ons bekend?  En helaas, wat is die betekenis van wat ons van God af weet vir leierskap? 
Tweedens: wat is ons definisie van leierskap?  Die boeke sê leierskap is die proses waardeur invloed uitgeoefen word. ‘n Leier is iemand wat in ‘n posisie is waar hy/sy ander persone se denkwyse en gedrag en ontwikkeling óf positief óf negatief kan beïnvloed.   
Die probleem waarmee ons sit is dat wêreldse leiers se leierskapstyl gewoonlik aangedryf word deur óf selfsug, óf deur vrees, óf albei.
Selfsugtige leiers misbruik dikwels hulle gesag vir hulle eie gewin, vir hulle eie eer en aansien, vir hulle eie selfverryking.  Daarom steel baie van hierdie soort leiers God se tuin leeg, ten koste van die inwoners van die stad. 
‘n Tweede groep wêreldse leiers se leierskapstyl word gekenmerk deur vrees.  Hulle is bang dat hulle die eer, aansien, die gemak en goeie salaris sal verloor.  Hulle word gewoonlik populistiese leiers wat hulle waardes prysgee en napraters van die massas word en vir die goeie guns van die meerderheid speel.
Wêreldse leiers tree dikwels as toergidse op: hulle neem mense waar hulle graag WIL wees.  Ons het nou leiers nodig wat die visie en die “guts” het om mense te neem waar hulle MOET wees.  Bose (evil) leiers is leiers wat mense willens en wetens mislei om te glo dat hy hulle na die regte plek toe neem.  
Die media is vol berigte van huisgesinne, beheerrade, direksies van groot maatskappye, plaaslike owerhede, nasionale regerings, en selfs kerke wie se besigheid in ‘n emosionele slagveld ontaard het as gevolg van óf selfsug, óf vrees.
Selfsug en vrees is waarskynlik die belangrikste oorsaak van die politieke teenstrydigheid wat ons nou beleef:  aan die een kant probeer ons al die stukke diskriminerende wetgewing van die apartheidsera by die agterdeur uitvee, maar aan die ander kant sleep ons nuwe diskriminerende wetgewing by die voordeur in.   Julle, leer ons dan nie uit die foute van die verlede nie?
   
3.     Die Bybel leer vir ons ‘n alternatiewe model vir leierskap.  Daarvoor moet ons blaai na die geskrifte van Salomo, wat waarskynlik die grootse staatsman in die antieke tyd was.   Spreuke 29: 2 en verder:  ‘n Volk juig as regverdige mense die mag kry; ‘n volk sug as ‘n goddelose mens regeer.
      Vers 2 praat van “righteous rulers”.  Daar is op die oomblik ‘n beweging in ons land aan die gang “to raise righteous rulers.”  Wetgewing maak dit nou moontlik vir persone, wat nie ‘n verbintenis met die een of ander politieke party het nie, moontlik om as onafhanklike kandidate aan die komende munisipale verkiesing deel te neem.  Die beweging Raise Righteous Rulers sien daarin ‘n geleentheid om righteous leaders te verkies in plaas van wêreldse leiers wat deur die een of ander party-politieke ideologie, selfsug of vrees gedryf word. 
Nou wat is volgens dié bloudruk vir leierskap die definisie van ‘n ”righteous leader”?   Die woord “regverdig” is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord “tsedek”.  Tsedek is ten diepste ‘n verhoudingswoord.  Dit beskryf iemand wat in die regte verhouding met God staan.  ‘n Regverdige is derhalwe iemand wat voor die gesag van die nuwe Koning buig en Hom erken as sy Here en Verlosser.  ‘n Regverdige is iemand wat die grondwet van die nuwe Koninkryk onderskryf, naamlik “jy moet God liefhê, en jy moet liefhê soos God”.  ‘n Regverdige is iemand wat deur God regverdig verklaar is, op grond van sy/haar geloof in Jesus Christus, en vrygespreek is, en deur die Heilige Gees herskep is tot ‘n nuwe mens.  ‘n Regverdige is vrygemaak van selfsug en vrees.
Daarom kan ‘n regverdige leier ook reg doen, sonder vrees.  Om reg te doen is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord “mishpat”.  Dit beteken, “to do justice”.   Dit beteken om reg te laat geskied, om die onreg te herstel, om die regte besluite te neem en die regte goed te doen wat die belange van die inwoners van die stad bevorder en daarvan ‘n plek maak vir almal om goed te lewe.    
    
5.   Die Evangelie – die Goeie Nuus is dat daar só ‘n rolmodel vir regverdige leierskap is.  In Fil 2: 5 skryf Paulus dat Jesus nie ten alle koste aan sy posisie van eer en aansien vas geklou het nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem, al het dit op die ou end Sy lewe gekos.
Dienende leierskap.  Dit is die teologie wat agter leierskap sit.  Dit is die soort leierskap wat ons broodnodig het in al die fasette van ons samelewing: regverdige leiers in die politiek, regverdige leiers in die ekonomie, regverdige leiers in die ekologie – manne en vroue wat nie bang is om die regte dinge te doen nie – al kos dit wat!