Bakgat Suzuki Brezza

0
933

Suzuki Motors SA het pas sy oulike en funky nuweling die “Brezza” virtueel plaaslik bekendgestel. Met ‘n slagspreuk “it can just get Brezza!”, het die uwe maar die petalje so skuins-skuins gade geslaan. So op ‘n prentjie kan ‘n besigheid mos misleidend mooi lyk, net om skewebek te vertoon wanneer jy hom die dag in lewende lywe staan en beloer. Vra maar vir die manne wat op die loop gegaan het oor ‘n sexy gesigboek profielfoto!

Terwyl die “Vitara” naamplaat oor etlike jare ‘n baie goeie reputasie plaaslik gebou het, val die naam vreemd op by die Brezza. Sien, die oulike klein kompakte sportsnuts vul netjies die gaping tussen die Ignis-buksie en die medium grootte Vitara met Suzuki wat na dese die segment vir klein en medium grootte bekostigbare stoftrappers behoorlik onder die knie het.

Ons het die Brezza ‘n dag of wat gelede in ontvangs geneem en is aangenaam verras met die nuweling.

Wat ontwerp betref, vang die Brezza die oog met ‘n parmantige vooraansig wat smaakvol en modern vertoon. Die blink afwerking van die smal sierrooster, skermplate voor en agter, dakrelings en netjiese sierwiele van ons GLX-model, vertoon teen verwagting geensins goedkoop nie. Van die sy-aansig beskou sorg die kompakte dimensies en ruim grondvryhoogte van die Brezza vir ‘n baie netjiese geheelbeeld.

Binnekant bied die ruim kajuit gemaklik sitplek vir vier volwassenes van gemiddelde grootte, met genoegsame pakplek in die kort, maar breë laairuimte. Die mengsel van materiale wat in ons GLX topmodel handrat gebruik is, voel goed en vertoon modern en duursaam. Die areas waar van plastiek gebruik gemaak is, skep geensins die idee dat dit goedkoop is nie.

Ons GLX handrat model is uitstekend toegerus en bied indrukwekkende standaardtoerusting vir sy prysklas. Sleutelose toegang en aan/af-skakel, netjiese klein stuurwiel met skakelaars vir die klank- en telefoonstelsels asook spoedbeheer is standaard. Ook is daar outomatiese hoofligte met LED-lampies. Die klein kleur raakskerm met groot ikone vir die radio, telefoon en inligtingstelsels werk baie gemaklik. Ook die tru-kamera se beelde vertoon duidelik op die skerm om saam met die agterste gonsers parkering nog makliker te maak. Die kissie tussen die voorste sitplekke bied selfs verkoelde bêreplek vir jou lafenissie op die pad. Ek het nogal van die opsie gehou om die instrumentepaneel se kleuromraming te kan verander. Dit bring ‘n lekker “funky” atmosfeer na die kajuit.

Op die pad draf die Brezza gemaklik. Die 1.5liter viersilinder petrol-enjin (sonder turbo) lewer 77kW en 138Nm se piekkragte met aandrywing wat slegs na die voorwiele geskied deur ‘n opsie van ‘n 5-spoed handratkas of ‘n 4-spoed outomatiese kas. Ons GLX model was met die handrat toegerus wat heel glad gewissel het. Die 1.5 liter enjintjie is heel gewillig met die Brezza wat flink litte losmaak as die versneller getrap word. Die amptelike brandstofverbruik word aangegee as 6,2 liter per 100km.

Die groter Suzuki Vitara is seker die beste grondpadryer in sy segment en die Brezza het tydens ons grondpad ritte opmerklike gemaklike hantering en vasvoetigheid getoon wat aan die groter Vitara herinner. Met ‘n uitstekende onderstel en vering is die Brezza myns insiens ook, wat grondpad dinamika betref, ‘n segmentleier. Hantering oor die algemeen boesem vertroue in met die effe ligte stuur wat veral parkering in klein ruimtes maklik maak.

Die Brezza word in Indië vervaardig waar dit uiters gewild onder kopers is. Trouens, meer as ‘n half miljoen Brezza’s is al daar verkoop sedert die bekendstelling in 2016. Suzuki Motors in Suid Afrika het die perfekte klein stoftrappertjie vir Suid Afrika gebring op die tydstip waar kopers vir ‘n oulike dog bekostigbare kompakte nutsvoertuig vra wat terseldertyd ook goeie bougehalte en betroubaarheid bied. Die Suzuki Vitara Brezza is die perfekte antwoord op daardie vraag.

Pryse begin by R244,900 vir die GL handrat met die topmodel deftiger GLX outomaties wat vir R309,900 verkoop. Ons toetsmodel was die GLX 5spd handrat model verkoop vir R289,900.