BAIC B40 Plus

0
511

Toe die Japanese vervaardigers in die vorige eeu met hul “Jap Scrap” die plaaslike motormark betree, was dit ‘n opdraende stryd om markaandeel en harte van die koperspubliek te wen. Dit het dekades geneem, maar vandag is Japanese voertuie van Suid Afrika se top verkopers.

Heelwat later, toe die Koreane hier opdaag het hulle eweneens gesukkel, maar ook hulle het die stryd gewen, en die keer het dit nie dekades geneem om in te haal nie.

Meer onlangs het die Chinese ons mark betree. Oudergewoonte was mense skepties. Maar kyk hoe fluks verkoop hul voertuie reeds. Die Haval Jolion is een van SA se topverkoper voertuie. ‘n Sjinees! Die tyd wat jy met ‘n veralgemening alle voertuie van ‘n spesifieke oorsprong kon afmaak, is verby.

Nog ‘n Chinese vervaardiger, BAIC, het nou ook tot ons mark toegetree. En die tipe belegging wat hulle in SA maak wys hulle is hier om te bly. Daar is ‘n reuse aanleg gebou in Kouga, ‘n aanleg so groot daar is kapasiteit vir 50 000 voertuie per jaar. Dis nie kinderspeletjies nie. Die BAIC groep (Beijing Automotive Industry Holding Co., Ltd.), een van die Top 5 motorvervaardigers in Sjina, is in staatsbesit en het samewerkings ooreenkomste met ondermeer Mercedes en Hyundai (daar is blykbaar ook planne om ‘n sportnuts, soortgelyk aan ‘n ix35, in 2022 plaaslik bekend te stel).

Die voertuig op die bekendstelling was die B40 Plus, ‘n doelgerigte viertrek wat baie ooreenkomste toon met ‘n Jeep Wrangler Sahara. Die ligte en sierrooster is dalk anders, maar die groot grendels op die deure en selfs die manier wat die dak af haal is baie eenders as die Jeep. Die groter B80, wat moontlik ook in 2022 sy buiging maak, trek weer baie na die G-Wagon.

BAIC bou viertrek voertuie vir die Chinese weermag, so die voertuie en tegnologie is goed getoets. BAIC het selfs die Dakar veldren aangedurf met drie voertuie en al drie het die ren voltooi – in 13de, 14de en 15de plek! Die B40 Plus is die burgerlike weergawe van die voertuig wat hul weermag gebruik, amper soos die Hummer en die Humvee in die VSA.

Onder die enjinkap is daar twee opsies. ‘n Tweeliter turbo-petrol of ‘n tweeliter turbo-diesel. Die petrol enjin lewer ‘n skaflike 160kW en 320Nm en is gekoppel aan ‘n seepgladde ses-spoed outokas. Die diesel lewer 110kW en 350Nm en is gekoppel aan ‘n ses-spoed handrat. Die B40 is gebou op ‘n leerraam platvorm met 210mm grondvryhoogte, terwyl die laestrek ratkas verklap dat hierdie nie net ‘n Sandton sypaadjieklimmer is nie.

Met die naderstap is dit duidelik dat hierdie ‘n robuuste en goed geboude voertuig is. Swaai die swaar deur oop en die binneruim verras. Dis luuks! Mens voel sommer tuis as jy inklim. Dit voel bekend. En dan tref dit jou. Dis ‘n Mercedes binneruim! Die samewerking gaan duidelik verder as net belegging. Die aansitter-knoppie lyk soos die Mercedes E-Klas, die luginlate is duidelik A-Klas en so gaan dit aan. Dis ‘n baie gemaklike plek om te wees. Koppel jou foon, speel jou gunsteling musiek en vat die pad. Ek het eerste koers gekies na die viertrek baan waar ons deur water, oor los klip en sand, gate, heuwels en artikulasie gate gery het. Een hand op die stuur, lied in die hart, die automatiese petrol model maak maklik korte mette van enige hindernis. Dis ampet té maklik! En net toe ek nou goed selfvoldaan is, toe ry ek dieselfde roete met die handrat diesel. Dit het meer tyd geneem om gewoond te raak. Om die regte rat te hak moet jy oplet, die kierie gly nie outomaties in die regte rat noodwendig in nie. Voeg daarby ‘n bietjie turbo-traagheid en jy kan in te ‘n hoë of lae rat met te veel of min krag op ‘n kritieke tyd baie minder vaardig lyk as netnou met die turbo petrol. Tog, dit het nie lank geneem om dinge onder die knie te kry nie en om die baan te voltooi waar jy “self” moet ry was amper meer bevredigend as met die outo-model. Die belangrike deel – almal het hulself heeltyd geniet. Hierdie is nou ‘n speelding vir grootmens-kinders by uitstek!

Op die ooppad was die rit gemaklik genoeg as mens in ag neem dat ‘n leer-raam voertuig altyd pad gemak sal prysgee vir viertrek vermoë. Die B40 Plus het wel ‘n teenwoordigheid en ‘n taxi sal nie sommer voor jou ondraai nie. Daar is drie spesifikasie vlakke (B40 Plus, B40 Plus City Hunter, B40 Plus Champion) en ‘n veskeidenheid kleure met veral die helder blou en militêre groen wat die aandag getrek het. Die B40 Plus intree model het uit die staanspoor goeie spesifikasie. Die City Hunter kry stelsels soos ESC, EBD, glip-beheer en heuwel wegtrek-hulp by. Die Champion kry ‘n leer binneruim en ‘n elektries verstelbare sitplek.

Ons tyd met die BAIC was beperk maar die eerste indrukke is goed. As gefokusde viertrek is dit ‘n nisvoertuig so dit sal (soos ander in die segment) nie in groot volumes verkoop nie maar vir die koper wat so doelgerigte voertuig soek bied die BAIC ‘n goeie alternatief. Veral in aggenome die intree prys van R549 500, paar honderd duidend minder as sy konkurente. Die Auto Petrol City Hunter sal my model van keuse wees, maar volgende jaar sal daar blykbaar ook ‘n agtspoed outokas as opsie bykom.

Met die B40 Plus het BAIC gewys hy bring kwaliteit produk na die mark en selfs al is van die stillering by hul venote geleen, ‘n Mercedes binneruim was nog nooit ‘n slegte plek om te wees nie. Ons sien uit om te sien wat BAIC nog na die mark gaan bring want dis duidelik ‘n ernstige speler wat gekom het om te bly.

Previous articleGood news for Bikers!
Next articleCareer as a Teacher
Johann van Tonder
Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies.