Suid-Afrika se eerste ernstige motorongeluk.

0
793

Suid-Afrika se eerste ernstige motorongeluk vind in Kaapstad plaas op die aand van 1 Oktober 1903. Die 24 perdekrag Franse Darracq behoort aan Charles Garlick, die skatryk eienaar van die bekende Kaapse klerewinkel. Sy seun, Charles jnr, is agter die wiel met twee vriende, Harry Markham en Eddie Snellgrove (een van sy pa se werknemers) ook op die motortjie. (Destyds het jy nog OP jou kar geklim, soos party Suidwesters vandag nog praat.)

Die motor met sy flou karbiedlampies wat skaars ‘n kers kan laat skaamkry, steek die spoorwegoorgang by Maitland oor en besef te laat dat die valboom aan die anderkant van die spoor reeds gesak het. Eers probeer hulle die slagboom lig, toe probeer hulle trurat… En toe moet hulle spring, want die volgende oomblik is die Johannesburg Express op pad noorde toe op hulle! Volgens oorlewering was genl Louis Botha daardie aand op die trein, maar hoeveel waarheid daarin steek weet ek eerlikwaar nie.

Die klein windgat van ‘n Garlick kom met ligte beserings daarvan af, Snellgrove trek soos ‘n weggooikoerant as die Suidoos waai deur die lug en Markham, wat in elk geval met ‘ n arm in die gips sit nadat sý eie motor ge-“backfire” het en die slinger sy arm morsaf geslaan het, lê langs die treinspoor met ‘n af heup. Die doodsengel se slagboom was gelukkig ook toe!

Diè saak is voorbladnuus. Die Kaapse Premier, John X Merriman, stel ‘n Kommissie van Ondersoek aan om padreëls te formuleer en eis dat dit duidelik gemaak moet word dat treine by spooroorgange voorkeur kry! Daai manne gaan nie stilhou vir’ n mouterkar nie.

Die peperduur Darracq word met ‘n ossewa weggery na ‘ n smidswinkel wat aan ‘n yslike ou beer van ‘ n Amerikaner met die naam van Yankee Jenkins behoort. Diè laat kom’ n nuwe onderstel met ‘n skip uit Parys, en toe val hy weg om die motor reg te maak. Teen die einde van Februarie is die Darracq terug op die pad… Wat jou net wys waartoe die eerste Kaapse “paneelkloppers” in staat was!

Artikel geplaas in Ultimate Drive met toestemming van die skrywer: Daniel Lötter