Volkspod – Dit lyk soos ‘n Kewer-larwe!

0
1491

Die geliefde Volkswagen Kewer met sy unieke bakvorm is onlosmaaklik deel van die motorwêreld. Aangewys as Motor van die Eeu is daar meer as 21 miljoen vervaardig tussen 1938 en 2003. Daar is dus nie ‘n tekort aan Kewers op ons paaie nie, ook nie juis ‘n tekort aan parte nie. Om Kewer parte op te sny en vir iets anders te gebruik is seker iets wat Kewer-liefhebbers en puriste met afgryse sal vervul, tog bring hierdie klein motorfietsie ooglopend hulde aan sy oorspronklike herkoms!

Die ontwerper is Brent Walter van Indiana in die VSA, wat self ‘n liefde vir die ou Kewers het. Tydens die restourasie van een van sy Kewers was ‘n paar modderskerms oor. Dié het hy gebruik om sy sweiswerk op die dun metaal te oefen. Die modderskerms kom mooi bymekaar, kompleet met plek vir die Kewer voor- en agterlig. Net daar is die idee gebore om ‘n klein motorfietsie te bou wat hy kon saamneem na die klassieke Volkswagen Motorskoue.

Die naam van die fietsie is die Volkspod, afgelei van sy vorm. Die stillering is eenvoudig gehou, rond, met ‘n Schwinn sitplek en wye handvatsels wat herhinder aan die fietse van die sestigs. Selfs die VW kenteken het behoue gebly. Onder die bakwerk is ‘n klein selfgeboude motorfietsie, basies ‘n raam, twee wiele en ‘n 79cc enjin wat jy algemeen in tuin implemente kry. Ook die verf is oorspronklik gehou, Berk Groen. Die gewildheid van die gedoente het Brent Walter heel onkant gevang. Gou is hy gevra om ‘n tweede model te bou. Dié motorfiets, in Pastel Blou, was toegerus met ‘n 212cc enjin en groter wiele wat die ryery op gras by motorskoue baie vergemaklik het.

Brent se Instagram wys hoe hy die fietsie gebou het. Sedertdien het verskeie weergawes al op die internet verskyn, insluitend Minion en Herbie weergawes. Ek is seker dat hierdie ontwerp selfs die kewer se ontwerper, Ferdinand Porsche, se goedkeuring sou wegdra. Lank lewe die Kewer en die nuwe Volkspod larwes!

Artikel: Johann van Tonder / Fotos: www.beautifullife.info