As jy moeg word vir die lewe in die stad…

0
2092

Artikel & Fotos: Johann van Tonder

Toe, ek weet jy het dit lank laas gesing, maar die woorde is daar in jou kop. Die wysie sal jy altyd onthou. Ek sal die eerste versie sing:

“…As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad; in die veld pluk ek ‘n wandelstaf van die naaste doringboompie af, en sing my wandellied, en sing my wandellied”.

Mooi, sien jy onthou nog! Onthou jy nog wanneer laas jy ‘n bietjie weggebreek het? Nee? Hoekom nie? “Té min tyd. Té ver om te ry?” Bog. As jy in George bly kan jy wegbreek binne 20 minute, na ‘n plek in die berg en bos, waar dit voel of jy jou besige lewe heeltemal agterweë gelaat het.

So het ons agtergekom toe ons onlangs ‘n wegbreek vir twee gewen het en die juweel ontdek het. Minder as 20km buite George en minder as 50km vanaf Mosselbaai, aan die voet van die Outeniqua berg, lê Arendsrus. Die wonderwêreld in die bos voel wêrelde verwyder van die besige lewe, al is dit net ‘n klipgooi weg.

Sommer so met die intrapslag stel rustige, vriendelike manier van die bestuur die toon. Die kamers, hout strukture op stilte tussen die bome, is naby mekaar, maar strategies so geplaas dat jy totaal privaat voel. Op die balkon asem jy die bos in, terwyl die voëls in die bome rondom jou skinder oor die nuwe intrekkers. Die kamers is deftig en stylvol gemeubileer, die tipe plek waar jy kan gaan sit om ‘n boek te skryf, maar die ware bekoring is Arendsrus self. Hier kan jy die natuur weer beleef soos toe jy kind was. Kaalvoet op die gras sit en piekniek hou, stap, fiets- of perdry, die wêreld verken. Die rustiger besoeker kan langs die swembad lê met ‘n koue lafenis, en as die honger begin kwel is daar ‘n Al a Carte restourant. Terloops, die restourant bedien Sondae heerlike boerekos, so selfs al kom kuier jy nie vir die naweek nie, kan jy jou week rustig hier afsluit.

Vir paartjies met groter planne is daar ook goeie nuus. Hier is ‘n kapel waar jy die knoop kan deurhak, met fasiliteite groot genoeg vir ‘n troue met 80 gaste. Destination Africa Magazine het in hul 2017/2018 uitgawe Arendsrus aangewys as die mees unieke trou-fasiliteit. Van toekennings gepraat, Arendsrus is ook aangewys as algehele wenner in die 3-Ster Hotel afdeling van die 2018 Sanlam Top Bestemming Toekennings. Arendsrus neem sedert ontstaan van die kompetisie in 2015 deel en was in elke jaar ‘n finalis, terwyl hy beide in 2016 en 2018 as algehele wenner in sy afdeling aangewys is.

Ons tyd by Arendsrus het een ding verseker. Ons kom terug. Daar is min dinge wat jou batterye herlaai soos tyd in die natuur. Mens is dit aan jouself verskuldig.

“As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad;

in die veld pluk ek ‘n wandelstaf van die naaste doringboompie af,

en sing my wandellied, en sing my wandellied

 

Of ek luister na my eie voeteval op pad oor berg en dal.

Dan’s ek weer die eensaam wandelaar na die lekker landstreek wie-weet-waar,

‘n swerwer lewenslank, ‘n swerwer lewenslank.


En die blou plafon wat oor die velde strek sal saans my sluimer dek.

En die sterreheer sal kom en gaan oor die maanverligte hemelbaan

en vriend’lik wink van vêr, en vriend’lik wink van vêr.”

Oorspronklike artikel was in Ultimate Lifestyle ED.9