Van die Baai tot in die Kloof

0
1393

 

Ultimate Lifestyle het saam met Epic 4×4 “The Valley of Baboons” beter bekend as die Baviaanskloof gaan besoek. Ongerepte natuur, smal klowe met vloeiende strome, steil berggange, uitgestrekte vlaktes met golwende grasvelde en uitsigte op die ongerepte wildernis….Welkom in die Baviaans. Oor duisende jare het die natuur sy gang geneem om te skep wat vandag algemeen erken word as die Baviaanskloof Wêrelderfenisgebied. Die kloof strek vanaf Willowmore met die Baviaanskloof Berge aan die noorde en die Kouga berge aand die suide kant al tot by Patensie met ‘n totale afstand van net so onder die 200km. Die bewaararea vanaf Zandvlakte tot by Poortjie is egter slegs toeganklik vir 4×4 voertuie. Epic 4×4 het besluit om die gedeelte tussen Willowmore en Zandvlakte uit te sny en ons op ‘n 4×4 avontuur oor die berg vanaf Kareedouw, bekend as die Baviaans-Kouga 4×4 roete tot by Doringkloof sowat 10km vanaf die ingang van die bewaararea te neem.

EN SO BEGIN ONS AVONTUUR

Ons kom bymekaar by die pragtige luukse Assegaaibosch Country Lodge net buite Kareedouw, met hulle netjiese kamers, swembad om bietjie af te koel, lieflike kroeg en eet area met vriendelike personeel. Ons sit aan vir ‘n heerlike aandete terwyl ons mekaar ontmoet en die roete bespreek.

Die volgende oggend na ‘n lekker ontbyt vat ons die berg aan met ons 4×4 Voertuie al die pad tot by Doringkloof. Uniek en asemrowend is die Fynbos Ingang van die Kloof. Die roete wat ongeveer 78km lank is met ‘n 2/3 gradering kronkel vanaf Kareedouw op teen die Kouga Bergreeks tot in die Baviaanskloofvallei. Dit was n warm dag op die roete maar ons het ‘n lekker koelte boom gevind, waar ons ‘n vinnige peusel happie kon geniet. Verder geniet ons die verskeidenheid plantegroei, insluitend ‘n broodboom of twee wat honderde jare oud is.

 

Laat middag arriveer ons almal veilig en ongedeurd by Doringkloof, ons tente is reeds opgeslaan deur Epic 4×4 op die pragtige groen grasperk met lieflike skoon ablusie geriewe en die vure wat reeds brand. Ons pak af en maak bed vir die aand terwyl die reuk van braaivleis, vars gebakte brood, mielepap en sous ons nader lok. Almal word rustig en geniet ‘n knertsie langs die vuur terwyl Kalbas en Shorty van Epic 4×4 ons aandete voorberei. Na ete word lekker stories uitgeruil oor die dag, Ernie se snuif masjien word uitgetoets wat sorg vir baie pret en lekker lag, ons geniet melktertjies vir ‘n “nightcap” (resep vir Melktertjies in volgende uitgawe van Ultimate Lifestyle). Na ‘n goeie nagrus, lekker koffie op die vuur en ‘n heerlike ontbyt is ons almal gereed vir die Baviaans.

Ons vat die pad deur die bewaararea met meer as 1200 verskillende plantspesies waarvan 32 bedreigde spesies en 26 spesies wat nêrens anders in die wêreld voorkom nie. Met 56 reptiel spesies waarvan 23 slegs in Suid-Afrika en 3 slegs in die Baviaans voorkom, amper 300 verskillende voël spesies, 17 amfibiese en 15 visspesies asook ‘n verskeidenheid boksoorte soos die duiker, bosbok, kudu, eland, grysbok, klipspringer, berg zebra, rooi hartebeest, buffel en die beroemde stoute Bobbejane van die Baviaans is daar soveel om voor uit te kyk. Volgende stop Rooihoek… waar Kalbas ons toergids van Epic 4×4 reg staan met middagete. Rooihoek wilderniskampeerterrein met 5 kampplekke bied natuurlike swemplek in die Kruisrivier omring deur ‘n uitgestrekte wit sandstrand, daar het ons almal lekker ontspan, geeët en afgekoel in die water na ‘n warm dag voordat ons terug keer na Doringkloof, net die die regte tyd om nog ‘n paar bokke te sien in die laat middag son.

Terug by ons kamp het daar liplekker potjiekos, rys, slaai en stroopsoet waatlemoen vir ons gewag. Nadat ons die stof afgewas het, het ons lekker gesmul aan die aandete wat Shorty vir ons voorberei het. Sondag oggend het ons na ‘n volmaag ontbyt gegroet en elkeen het sy eie koers ingeslaan. Op die vraag wat sal jy anders doen die volgende keer, was die meeste se reaksie, “dit was n wondelike ervaring en wanneer hou ons reünie”!! Ons was ‘n kein groepie maar ons het vining vriende geraak, lekker gelag, heerlik geëet en ‘n opwindende avontuur meegemaak!! Kan nie wag vir die volgende 4×4 Safari saam met Epic 4×4 en Ultimate Lifestyle nie!! Kom kuier saam volgende keer, jy sal nie spyt wees nie!!!

 

Artikel en foto’s: Elizma Liebenberg

Oorspronklike artikel was in Ultimate Lifestyle ED.10