Lexus UX eintlik ʼn stadsjapie

0
978

Ons kan dit nie genoeg beklemtoon nie: die SUV mark is ʼn ontluikende mark. Daar word konstant na nuwe nismarkte gesoek; selfs ʼn nismark in ʼn nismark! Dis terselfdetyd wonderlik én vreesaanjaend, maar feit bly staan dat vervaardigers nie op hulle laat wag nie. Lexus is een van hierdie vervaardigers wie se fokus die laaste paar jaar grootliks na SUVs geswaai het. Nie minder as vier model-reekse beslaan Lexus se SUV stal; en elke reeks bied iets vir ʼn spesifieke koper. Die LX is vir die rykes, terwyl die NX die intree-reeks tot Lexus se SUVs is. Wel, dis totdat die UX geland het.

Die UX word as ʼn SUV vir die hedendaagse stadsjapie bemark en is dan heel geskik vir die’s van ons wat bietjie uit wil staan. Hierdie SUV spog met ʼn ontwerp wat hom half as ʼn luikrûg vermom; ongetwyfeld ʼn resep wat die regte geluide maak en aandag trek.

Hierdie UX200 F-Sport is die top-model in die drie-model reeks en deel die kar dieselfde enjin en ratkas as die EX model. Maar waar die F-Sport homself onderskei is met sy ontwerp. Die SUV spog met ‘F-Sport’ kentekens, ʼn chroom strook wat om die sierrooster hardloop, en netjiese 18-duim wiele. Binne word alles ʼn stap verder geneem is die eerste ontmoeting daardie rooi leer sitplekke. Teenoor die groen van ons toetsmodel, skep die rooi binneruim ʼn lekker kontras. Wanneer mens in die voorste sitplekke klim, skuif dit vorentoe tot in die laaste gestoorde posisie. Met die uitklim skuif dit terug, alles om verbruiklikheid te vergemaklik. Daar is darem ʼn laairuim van 440L, so mens kan jou familie én hul bagasie inlaai vir ʼn naweek weg. Verder spog die UX200 F-Sport met voorste sitplekke wat kan verkoel en verhit, aanpasbare spoedbeheer, satelliet navigasie, stembeheer, en agt lugsakke. Die lysie is nog langer…

Die F-Sport se natuurlik-geaspireerde enjin lewer kragvlakke van 126kW en 205Nm. Verrigting sal nie die teer onder jou voet smelt nie, maar die SUV tel lekker spoed op en hardloop dit met ʼn versekerheid op die lang pad. Deur die draaie voel dit geplant en word bakrol baie goed tot ʼn minimum beperk. Lexus het hul deel gedoen om te sorg dat die UX200 F-Sport se ritgehalte aan daardie kenmerkende Lexus eienskappe voldoen, en dit wys.

Teen R751 100 is die UX200 F-Sport nie goedkoop nie, maar dis ‘n premium produk en die algehele pakket sal jou die kop laat knik. Die teikengehoor sal die SUV waardeer vir wat dit is en sal hul tyd agter die stuurwiel geniet. Die UX is ʼn mooi wa en beslis gepas vir lewe in die stad.

Artikel & Fotos: Charlen Raymond (Ultimate Drive)

Previous articleEnough is enough!
Next articleAudi A1
Johann van Tonder
Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies.