By waters waar rus is…

0
1520

Groot Brakrivier, gelys as een van die Top 10 rustigste dorpies

Terwyl 2019 op ‘n dolle vaart af jaag na Desember, is daar ‘n dorpie in die Suid Kaap waar tyd net so bietjie stadiger verloop. ‘n Plekkie waar mense mekaar nog in die straat groet, waar die eienaar van die besigheid jou nog self kan help. ‘n Dorp waar, maak nie saak waar jy is nie, jy waarskynlik water kan sien. Selfs die walvisse kom die tyd van die jaar na dié geweste. In die uitgawe van Ultimate Lifestyle fokus ons op die rustige, terwyl ons gereedmaak vir die groot vakansie.

Groot Brakrivier is aangewys as die vyfde mees ontspanne dorp in Suid-Afrika, soos gelys deur die Getaway Magazine. Die pragtige dorpie is beide gerieflik en afgesonderd geleë, in die pragtige Tuinroete tussen George en Mosselbaai. Met ‘n tipiese vakansie-dorp gevoel die heel jaar deur kan jy dus ontspan sonder om jou te vêr van die moderne geriewe in die naby geleë groter dorpe te bevind.

Die fenomenale panoramiese uitsigte wat Groot Brak bied komplementeer die skoonheid van hierdie juweel van die Suid-Kaap. Die pragtige strande in die omgewing en die strandmeer bied ‘n veilige swem area vir inwoners sowel as toeriste. Die teenwoordigheid van ’n verskeidenheid walvisse van Mei tot November is een van die belangrikste toeriste aantrekkings in die dorpie.

Hierdie skatkis wat homself bevind in die middel van die Tuinroete, is ‘n rustige historiese dorpie wat rondom die strandmeer van die Groot-Brakrivier gebou is. Die strandmeer is in twee sandkanale verdeel met ‘n klein eiland tussenin. Die dorp se naam het ontstaan as gevolg van die brak smaak van die water uit die twee Brak-riviere.

Groot-Brakrivier het sy oorsprong gekry in 1859 toe Charles Searle, ‘n Engelse papierfabriek-hand wat saam met sy vrou en vier kinders uit Surrey na die Kaap geëmigreer het, hom as bewaarder van die tolbrug by Groot-Brakrivier gevestig het. Charles en Pamela Searle word aangewys as die stigters van die dorp.

Charles se ouer broer, Richard, oorspronklik ‘n arbeider, het reeds in 1845 na Suid-Afrika geëmigreer onder ‘n regeringsgeborgde skema. Hy het toe in Groot-Brakrivier aangekom in 1850 om vir die Central Road Board te werk na ‘n seevaart van 68 dae. Gedurende daardie tyd het die tolbrug bestaan uit ‘n tolhuis, ‘n klein losieshuis genaamd Ferreira’s en ‘n plaashuis aan die kant van die rivier van Mosselbaai.

Die Searle familie het floreer en hul besigheid het vinnig uitgebrei tot winkels, akkommodasie, looiery, skoenmakery en houtondernemings in die vooruitstrewende dorpie wat weer deur hierdie ondernemings gevorm is. Hulle koshuis was bekend as die Temperance Hotel, aangesien die Searles streng alkohol-onthouders was en verwag het dat almal in die dorp die voorbeeld moet volg. Hulle was geheel en al gekant teen die verkoop van drank en mettertyd het Groot-Brakrivier in die omgewing bekend geword as “Prohibition Village”. Die sensus van 1904 het aangedui dat Groot-Brakrivier ‘n bevolking van 362 gehad het.

Vandag is Groot-Brakrivier hoofsaaklik ‘n vakansiebestemming, met strande en die strandmeer wat die belangrikste besienswaardighede bied. Die woongebied van die eiland word deur ‘n brug met ‘n enkele baan aan die vasteland gekoppel.

Ander toeriste aantrekkings sluit in die plaaslike geskiedkundige museum, historiese geboue wat tussen 1852 en die middel van die dertigerjare gebou is, die Wolwedansdam en ‘n herstelde kragstasie wat uit die vroeë 1900’s dateer. Ook, die 250 jaar oue skoenfabriek van Bolton Footwear, wat oorspronklik deur die Searle familie begin is, word vandag nog in Groot-Brakrivier in bedryf en is een van die belangrikste werkgewers in die dorp.

Artikel: Melizza Liebenberg

Foto’s: Johann van Tonder, Groot Brak Museum, Mossel Bay Tourism (www.visitmosselbay.co.za)

Oorspronklike artikel was in Ultimate Lifestyle ED.9