Audi A1

0
1077

In 2011 het Audi tot die marksegment vir intreevlak-luikrugmotors toegetree met die bekendstelling van die A1, waarvan 13 700 sedertdien in Suid-Afrika verkoop is. Nou is die tweede geslag van Audi se intreevlak-modelreeks in September 2019 in Suid-Afrika bekendgestel en hierdie keer is net een bakvorm, die “Sportback” met vyf deure, beskikbaar. Die A1 driedeur-bakvorm is aan die mark onttrek.

Die nuwe A1 Sportback is opvallend langer as sy voorganger; die nuweling se lengte van 4,03 meter is 56 mm langer as voorheen. Terselfdertyd is sy wydte van 1,74 meter byna dieselfde as die vorige model.

Die drie luguitlate aan die voorkant van die enjinkap net onder die sierrooster is ‘n huldeblyk aan die legendariese Sport quattro-tydrenmotor van 1984. Aan die kant is die ooreenkomste met die Sport quattro ook duidelik sigbaar, veral met die breë C-pilaar. Daar is twee kontrasterende kleure vir die dak beskikbaar, naamlik swart en grys en die kontraslyn eindig bokant die C-pilaar. Die 35 en 45 TFSI-modelle spog met volle ligdiode-kopligte met kenmerkende dagrylig-grafika. Die agterligte in twee dele het ‘n kenmerkende en onmiskenbare voorkoms. Tien bakkleure is vir die A1 Sportback beskikbaar.

Die reeks word bekendgestel met ‘n spesiale model wat as Edition #1 bekendstaan. Hierdie model word in geel afgewerk en beeld die A1 se ontwerprigting met verskeie kontraste uit. Die groot 18-duim allooiwiele met die swart dak en buitespieëls gee dié model ‘n unieke voorkoms en die ligdiode-kop- en agterligte is donker getint soos in die Sport quattro. Die Audi-kenteken en modelbenamings is in swart afgewerk.

Daar is drie spesifikasievlakke, naamlik Standard, Advanced en S-Line, en veral die S-Line beklemtoon sy sportiewe karakter. Dié model spog met groter luguitlate, bykomende syskorte, en ‘n groter agterste drukvlerk. Die 45 TFSI word ook met twee sportiewe uitlaatpype toegerus. Daarby is ander stileringspakkette ook beskikbaar, onder meer die Black Styling en Contrast-pakkette. Black Styling beskik onder meer oor ‘n sierrooster, voorste luguitlaatraam, agterste lugverdeler en agterste druvlerk, alles in hoëglans-swart. Die Contrast-pakket bevat ‘n dak, buitespieëls, onderste drukvinafwerking en syskorte in swart of grys.

Die binnekant is só ontwerp dat dit vir die voornemende koper maklik is om dit volgens persoonlike voorkeur aan te pas. Die A1 Sportback het ‘n digitale instrumentepaneel as standaardtoerusting en al die kontroles vir die MMI-raakpaneel is op die bestuurder gefokus; dit beklemtoon die spesiale karakter van die stuurkajuit. Selfs die intreemodelle het die digitale instrumentepaneel met ‘n skerm van 8,8 duim, as standaardtoerusting. Die opsionele virtuele stuurkajuit bied ‘n groter verskeidenheid funksies, onder meer navigasiekaarte en grafika van sommige bestuurshulpmiddels in die bestuurder se direkte gesigsveld. Die navigasiestelsel wat teen ekstra koste beskikbaar is, bied ‘n skerm van 10,1 duim; dit skakel in by die paneel in die middelkonsole met ‘n glasafwerking. “Android Auto” en “Apple Car Play”-versoening is opsioneel beskikbaar en bied twee USB-kragpunte. Nog ‘n opsionele ekstra is ‘n koordlose selfoonlaaier. Vir musiekliefhebbers is ‘n Bang & Olufsen-klankstelsel met elf luidsprekers beskikbaar.

Vir diegene wat hul motor só tegnologies gevorderd moontlik wil maak, is ‘n tegnologiepakket wat die slimfoonversoening, die klankstelsel en die virtuele stuurkajuit insluit, teen ‘n verdure R 9 900 beskikbaar.

Daar is drie verskillende enjinkeuses beskikbaar. Die 30 TFSI word toegerus met ‘n turbo-aangejaagde eenliterenjin met drie silinders wat ‘n kraglewering van 85 kW bied en ’n wringkrag van 200 Nm tussen 2 000 en 3 500 opm opwek.

Die 35 TSFI se viersilinderenjin van 1,5 liter lewer 110 kW en ‘n wringkrag van 250 Nm tussen 1 500 en 3 500 opm.

Die topmodel is die 40 TFSI, wat net in ‘n S-Line beskikbaar is. Hierdie model se viersilinderenjin van twee liter lewer 147 kW en ‘n wringkrag van 320 Nm tussen 1 500 en 4 400 opm. Die 30 en 35 word toegerus met ‘n dubbelkoppelaar S-Tronic-ratkas met sewe gange en die 45 met ‘n S Tronic-ratkas met ses gange.

Die 30 en 35 is opsioneel met ‘n Dynamic-pakket, wat sportvering, rooi remknypers, groter remskywe en verskillende bestuursmodusse. Hierdie pakket is standaardtoerusting vir die 45 TFSI. Verskillende tipes allooiwiele, wat in grootte wissel van 15 tot 18 duim, is beskikbaar.

Die pryse van die verskillende modelle in die A1-reeks, wat ‘n Audi Freeway-plan van vyf jaar of 100 000km insluit, lyk soos volg;

A1 30 TFSI S Tronic: R 359 900

A1 30 TFSI Advanced S Tronic: R 373 900

A1 30 TFSI S Line S Tronic: R 388 900

A1 35 TFSI S Tronic: R 429 900

A1 35 TSFI Advanced S Tronic: R 443 900

A1 35 TSFI S Line S Tronic: R 458 900

A1 45 TFSI S Line S Tronic: R 488 000

Artikel: Gerrie Smit (Ultimate Drive)