Ons groei sterker in die winters van ons lewe

0
1048

En daar tref die koue ons. Die warmer komberse, truie, sambrele en verwarmers word nou nader getrek. Dis nie altyd die wonderlikste seisoen nie en kan vir baie mense ongemaklik en selfs onsmaaklik raak. En dis ook n tyd wanneer die bome nie net hul blare verloor nie maar ook kwalik vrugte dra. Die gras en baie plante begin verdor en begin lyk asof dit dood is.
En so is ons ook baie keer in die winter van ons lewe waar jou lewe so leeg voel en dit lyk asof niks reg wil loop nie. Jy begin ń gevoel van neerslagtigheid ervaar en sukkel om optimisties te bly en by sommige maak depressiewiteit sy opwagting. Dis gewoonlik in dié winters dat dit ook voel asof die lewe teen jou draai, wanneer jou verhoudings dikwels getoets word en huwelike onder geweldige druk verkeer. Jy ervaar spanning by die werk en die voel of alles an almal teen jou is.
Luister ek egter na die slim mense, sê hulle dat ń plant of boom se groeikrag in die wintertyd meer skuif na sy wortels toe. So terwyl dit lyk asof die boom besig is om te kripeer, groei die wortels dieper en sterker daar ondergronds waar jou oog nie kan sien nie. Dit kry die boom reg vir sy volgende seisoen. So mens moenie haastig wees om sommer ń boom wat lyk of dit nie meer leef nie, uit te kap in die winter nie.
Die natuur wil ons leer om nie oorhaastige besluite in die winters van ons lewens te neem nie. Jy kan jouself baie hartseer en trane spaar.Ja jou huwelik is bietjie ontstuimig, jou loopbaan lyk of dit nie aan die gang kan kom nie, jy voel niemand waardeer jou nie, maar onthou: dis slegs winter. Somer is om die draai. Elke seisoen is belangrik en mag juis die seisoen wees wat jou voorberei vir jou volgende seisoen.
Wees altyd daarvan bewus dat die Skepper wat die somers van ons lewe verskaf ook in beheer is van die Winter. Hy beplan altyd die beste vir ons.
Die plante gaan weer blom. Die son gaan weer skyn. Winter hou nie vir altyd aan nie.