OCC-voorstaanders vereer vir hul bydrae om Chair Challenge ‘25 weer te laat rol!

0
49

George, Tuinroete (Junie 2025) – Wanneer die uitsonderlike geleentheidsorganiseerder Alewijn Dippenaar die mikrofoon opneem, weet sy gehoor hulle kan uitsien na iets besonders. Só was dit weer op Maandagoggend 2 Junie toe besighede en individue verantwoordelik  vir die vanjaar se Outeniqua Chair Challenge (OCC) by The Apprentice byeengekom het vir ’n onvergeetlike ‘Breakfast of Champions’.

Onder die gaste was die meerderheid van borge wat saamgespan en bygedra het met fondse, produkte en dienste om te verseker dat OCC ‘25 op 15 Maart 2025 vir die 21ste keer kon plaasvind. Verteenwoordigers van plaaslike, streek- en provinsiale regeringsliggame wat ’n sleutelrol in die geleentheid se volgehoue sukses speel, was ook teenwoordig om stories en huldeblyke te deel.

Onder die sprekers van die dag het George-raadslid Melvin Roelfse dit dalk die treffendste opgesom deur te sê dat die impak van die OCC onmoontlik in ’n paar sinne vasgevang kan word. “Die OCC vier die oorwinning oor teenspoed, en die geleentheid se impak op ons dorp, land en selfs wêreldwyd is amper onmeetbaar.

“As munisipaliteit probeer ons George meer toeganklik maak vir alle inwoners – byvoorbeeld deur aanpassings by verkeersligte en biblioteke – maar niks kom naby die impak van die OCC nie. Ek bedank Alewijn en sy span vir hul ware begrip van gestremde persone se behoeftes,” het Roelfse gesê.

Dippenaar het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, onder leiding van uitvoerende burgemeester Andrew Stroebel, bedank vir hul deurlopende ondersteuning. Ander Wes-Kaapse regeringsliggame wat betrokke was, sluit in DECAS (Departement van Kultuursake en Sport) en die Premier se Departement.

Desmond Speelman, voorsitter van die Eden Sportraad, het daarop gewys dat “die geleentheid nie in isolasie plaasvind nie,” en hierdie sentiment is beaam deur Juan Neethling van DECAS, wat nog goed onthou hoe die oorlede OCC-stigter Esther Watson vir die eerste keer in 2002 die idee van ’n rolstoelresies in George kom voorstel het. “Vandag is daar 40 groot geleenthede wat ons moet oorweeg, maar die OCC is altyd eerste om befondsing te verkry,” het hy gesê.

Raadslid Marais Kruger van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het ook herinneringe gedeel aan daardie vroeë OCC-jare, toe hy nog ’n jongeling was en sy pa by George-munisipaliteit gewerk het. “Pa het altyd verduidelik hoe belangrik vrywilligers is, en die impak wat die geleentheid op die dorp se ekonomie en toerisme het.”

Verteenwoordigers van die OCC se hoofbesigheidsborge – Garden Route Mall, Master Cargo, Lancewood, Safari, Carpe Diem Skool en iX – het almal die verhoog betree om hul lojaliteit teenoor die saak te bevestig. ’n Algemene tema was die gevoel van “gemeenskap en samewerking” wat deur die geleentheid gekweek word. Buiten die hoofborge, moet genoem word dat meer as 60 ander ondernemings die OCC op verskeie maniere ondersteun.

Dippenaar het hulde gebring aan hierdie besighede en onderstreep dat hulle jaarliks oorval word met versoeke vir befondsing. “Maar asseblief, hou aan om ons bo-aan julle lys te plaas! Buiten finansiële ondersteuning, is dit altyd spesiaal om spanne van groot én klein borge langs die roetes te sien staan en OCC-deelnemers aan te moedig.”

Hy het onthou dat hulle ná die terugslag van die Covid-pandemie nuwe idees moes uitdink om besighede te betrek. “Ons het die Africa Skills-span onder direkteur Elsie Harmse gevra om 20 kaskarre te bou. Aanvanklik het slegs ’n paar spanne deelgeneem, maar vanjaar het 18 besighede ingeskryf en altesaam R100,000 vir die OCC ingesamel deur hul deelname.”

Dippenaar het ook hulde gebring aan die mediagroepe wat die geleentheid ondersteun het, en gesê dat – anders as normaal – hulle eerder saamwerk as meeding: “Die SABC-span het gesorg dat ons nasionale uitsaaityd kry; Algoa FM het ’n wye gehoor in die Oos- en Wes-Kaap bereik, en Eden FM het ons plaaslike luisteraars ingelig.”

’n Sleutelfiguur in die bewusmaking van die befondsingsnood vir OCC ’25 was Ilse Schoonraad, hoofredakteur van Group Editors-publikasies, en skrywer van die George Herald se voorbladartikel wat die geleentheid vir 2025 bevorder het. “Die OCC bring die beste in mense na vore en is ’n integrale deel van ons dorp – ons kon dit nie laat sterf nie,” het sy gesê.

Schoonraad se ‘OCC SOS’-artikel is vroeg daardie Januarie-oggend raakgesien deur die span van Garden Route Mall, en hulle het onmiddellik met Dippenaar in verbinding getree om hul steun aan te bied. Op Maandag het GRM bemarkingsbestuurder, Tumi Masango, hul besluit gemotiveer: “Dit gaan nie oor die geld nie; die OCC bevorder inklusiwiteit en sal vir jare ons ondersteuning geniet,” het sy gesê.

Die geleentheid het ook gedien as huldeblyk aan die afgestorwe Esther Watson, en haar man Laurence het opgemerk dat, hoewel sy liefdevol bekend was as ‘Die Generaal’ as gevolg van haar vurige kampvegterskap vir die resies, “het sy haarself altyd omring met lieflike mense wat ’n verskil maak. Wanneer ek vandag hier om my kyk, is dit steeds die geval,” het hy gesê.

Deurgaans het George-inwoner Shaun Butler – voorsitter van die Disabled Road-race Foundation, ster-atleet, en een van die hoofkarakters in die boek Only Good Things: celebrating 100 feel-good SA stories of 2024 – die OCC-kampioene na die verhoog verwelkom. Die opheffende publikasie was deel van van die borge se pryspakkies.

Na die oorhandiging van gedenkplakkate, boeke en geskenkpakkies, het Dippenaar die laaste woord gehad toe hy verduidelik het waarom elke gas ook ’n spekboom ontvang het. “Spekbome is bekend daarvoor dat hulle giftige stowwe uit die lug haal en dit as suiwer suurstof teruggee. Dit simboliseer wat die OCC doen vir ons nasionale en kontinentale gestremde gemeenskap.”

Na die amptelike verrigtinge afgehandel is, kon gaste die luukse ‘Ontbyt van Kampioene’, voorberei deur Johannes en sy Apprentice-span, geniet – en die spesiale samekoms gebruik om herinneringe oor Outeniqua Chair Challenge ’25 op te haal en uit te sien na die grootste rolstoelresies in Afrika se blink toekoms.

Press release on behalf of the Disabled Road-race Foundation:
interface
by goji

mimi finestone |  mimi@gojipr.net  |  +27 84 583 3144

mimi finestone
+27 84 583 3144 | www.gojipr.net