2022 Opel Mokka

0
535

Met Opel wat deesdae in die Stellantis groep blyplek gevind het, is die 2022 Mokka ‘n welkome toevoeging tot hul modelreeks vir die Suid Afrikaanse mark. Soos met omtrent al die nuwe modelle in die Stellantis stal, het ook die 2022 Mokka ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Die nuweling is die 2de generasie Mokka en met die vorige model wat as ‘n produk van General Motors wêreldwyd meer as een miljoen eenhede verkoop het, het die 2022 Mokka groot skoene om vol te staan.

Die 2022 Opel Mokka word gebou op Stellantis se PSA EMP1 platform wat ook diens doen in verskeie modelle van Opel, Peugeot en Citroen. Die nuweling bied ’n moderne ontwerp, pragtige neus en bakwerk met skerp en sterk aksentlyne wat in geheel beskou, vir ‘n treffende voorkoms sorg. Die nuwe Mokka gaan verseker een van die meer gewilde kopies wees onder die talle stoftrappers in sy marksegment. Mededingers sluit in Peugeot se pragtige 2008, Kia Seltos, Mazda CX-30, Mitsubishi Eclipse Cross, Toyota Corolla Cross om maar ‘n paar te noem. Daar is ook nog die Volkswagen T-Cross en selfs Haval se Jolion. So die kompetisie is kwaai en kieskeurige kopers word bederf om uit talle opsies te kies wat hul voorkeure en beursies die beste pas.

Die Puretch 1,2liter 3-silinder turbo petrolenjin is vanuit die Stellantis se parte stoor en dien ook as kragbron in die nuwe Opel Corsa, asook die Peugeot 208 en 2008 modelle. Opel se hand kan gesien word in die veerstelsel en dinamika, terwyl die 8-spoed outomatiese ratkas ook met die komplimente van Opel kom. Hierdie outokas is ‘n juweel en kom ook met ratspane agter die stuur toegerus. Aandrywing is deur die voorwiele. Die enjin lewer ‘n stewige 96kW en 230Nm se piekkragte vir baie goeie verrigting. Volgens Opel se amptelike syfers is die 2022 Mokka se brandstofverbruik 6,1L/100km wanneer gemeet word in ‘n gekombineerde siklus van stadsverkeer en ooppad ry.

Stellantis in Suid Afrika het die 2022 Opel Mokka in twee modelle plaaslik beskikbaar gestel, naamlik ‘n intree “Elegance” en die topmodel “GS Line”. Die intree Elegance is verbasend goed toegerus en kom standaard met ondermeer ‘n 7” raakskerm vir die klank-, vermaak- en inligtingstelsels wat ook met Apple CarPlay en Android Auto aanpasbaar is. Die 7” digitale instrumentpaneel agter die stuurwiel bied aan die bestuurder omtrent alle nutfunksie-inligting met die druk van ‘n skakelaar op die netjies ontwerpte sportstuurwiel. Die Elegance beskik ook oor outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer en elektriesbeheerde vensters en kantspieëls terwyl die sitplekke met materiaal beklee is. ‘n Pluspunt vir die koue winters is dat die voorste sitplekke ook ‘n funksie het om te verhit. Die topmodel GS Line kry daarenteen ‘n 10” raakskerm vir die infotainment en ‘n 12” digitale instrumentepaneel vir die bestuurder. Die bekleedsel is leer en die voorste sitplekke bied funksies om te kan verhit asook masseer.

Die GS Line kom ook standaard toegerus met die Matrix LED intelligente hoofligte, asook ‘n omvattende stel passiewe en aktiewe veiligheidstelsels waaronder aanpasbare spoedbeheer, ‘n vooraf waarskuwing om mootlike botsings te vermy asook ‘n baanhou-funksie. Die kajuit is ruim, maar spasie vir die agterste passasiers kan beknop raak vir 6 voet-plussers. Andersins vertoon die kajuit effe futuristies, modern en aangenaam luuks. Die instrumentasie is effe na die bestuurder gedraai en bied goeie ergonomie, maar die instrumentasie en verskillende programme om die inligting en funksies te bereik, kon meer intuitief wees.

Tydens die media bekendstelling in die pragtige Kaap, kon ons bietjie in stadsverkeer ry, maar ook lang ente pad deur die Boland en Swartland. Die nuwe Mocca se enjin en 8-spoed ratkas is pekfekte pasmaats en sorg vir heerlike verrigting op die ooppad. Deur die vinnige swiepe en draaie was ons beïndruk met goeie dinamika, greep en balans. Die 3-slinder enjintjie klink en voel heerlik lewendig en as ons in Sport modus die ratspane agter die stuur gebruik het om ratte te verwissel, was dit soomloos en vinnig. Die Mokka se balans en paddinamika was in geheel goed. Die nuwe Mokka bied 3-ritmodusse deur sy ratkas naamlik, Eco, Normaal en Sport. Ons het die Sport modus verkies, maar vir die beste brandstofverbruik sal jy Eco moet kies. Ritgehalte is verbasend goed en so ook die lae vlakke van pad- en windgeraas teen togsnelhede, ten spyte van ons topmodel se 17” sierwiele met lae profiel bande.

Die 2022 Opel Mokka vertoon treffend van buite (veral in die pragtige nuwe “Matcha”-groen bakkleur) en binne. Die hoë vlakke van standaard toerustingis sal baie van die jonger generasie beïndruk en aanspoor om te koop. Nie net is die nuweling ‘n reuse verbetering op die ou model nie, maar bied ook veel meer in terme van verrigting, afwerking en ontwerp met die groot pluspunt van ‘n veel beter enjin en brandstofverbruik. Die nuwe Mokka kompeteer teen baie goeie opponente in sy marksegment, maar behoort sy man in elke opsig te kan staan.

Elke nuwe Opel Mokka word verkoop met ‘n 4jaar/60 000 km diensplan, asook ‘n 3jaar/120 000 km waarborg ingesluit by die koopprys.

Mokka Elegance R469,900

Mokka GS Line R519,900

This article appeared in Ed.86 of Ultimate Drive.