Verken die Suid Kaap!

0
1872

Moeg van op die strand lê?

Die Suid Kaap het soveel meer om te bied! Hier is ‘n paar voorstelle vir die dag wat jy dalk iets anders wil doen.

Ontmoet vir Bain:

Thomas Bain was die seun van Andrew Geddes Bain. Hierdie pa en seun het in hulle tyd in Suid Afrika vele asemrowende passe gebou en die Suid Kaap area spog met van Thomas Bain beste werk. Vat bietjie die pad en gaan kyk wat het hierdie man vermag.

Prins Alfred’s Pas – Hierdie pragtige pas strek oor ongeveer 70km en loop van Knysna tot in Avontuur. Die roete is geseën met ‘n verskeidenheid van woude, hoe uitsigte asook Klein Karoo Fauna en Flora. Stop by die wel bekende tee tuin in De Vlugt en eet melktert of stop by Angie’s vir ‘n koue. As jy van Knysna se kant af ry moet egter nie by De Vlugt al omdraai nie, van die mooiste dele van die pas lê tussen De Vlugt en Avontuur.

Swarberg Pas – Hierdie pas is gebou in 1888 en loop bo-oor die Swartberg vanaf Oudtshoorn na Prins Albert. Hierdie meesterstuk was die laaste pas wat Thomas Bain gebou het en waarskynlik sy beste werk. Let veral op na die droë klip mure wat die pad vandag nog dra. Die uitsigte vanaf hierdie pas is asemrowend maar wees gewaarsku, as jy hoogtevrees het kan jy dalk sukkel. In Prins Albert maak gerus ‘n draai by die Fransie Pienaar museum.

Vat vir Skoonma Hel toe!

Gamkaskloof, ook bekend as Die Hel, is ‘n vallei in die Swartberg waar ‘n klein trotse gemeenskap vir meer as 100 jaar in isolasie gewoon het. Petrus Swannepoel was die eerste boer in Gamkaskloof, ‘n vallei wat ‘n hardwerkende gemeenskap onderhou het tot in 1962 toe ‘n pad daarheen gebou is. Die pad het uiteindelik die einde van die gemeenskap beteken want die mense het een vir een weg getrek. Piet Swanepoel, die laaste boer, het in 1991 die kloof verlaat.

Geskiedenis boeke vertel dat trekboere die kloof ontdek het toe hulle verdwaalde beeste in die berg gaan soek het. Hulle het in die vrugbare vallei gevestig en op sy dag het die kloof ‘n kerk, ‘n skool en ‘n aktiewe gemeenskap gehad. Vandag behoort meeste van die kloof aan Cape Nature wat dit bewaar vir die nageslag.

Onder in die kloof is ‘n restourantjie wat behoort aan Annetjie Joubert, ‘n boorling van Gamkaskloof. Gamkaskloof is ongeveer 160km vanaf George. Die pad na Gamkaskloof draai uit vanaf die Swartberg pas, so 3km anderkant “Die Top”. Ry reeds vroeg in die oggend en begroot ‘n hele dag vir die besoek. Gebruik ‘n voertuig met redelike grond vry hoogte en moenie vir skoonma daar vergeet nie!

Ry ‘n sirkel roete.

Pak ‘n mandjie padkos en vat die pad! Hier is ‘n lekker roete wat verskeie van die minder bekende grondpad passe in die area insluit. Vanuit George begin jy sommer met die Montagu Pas. Net verby Herold sluit die pad aan by die N9 wat na Uniondale loop. Daar draai jy na Uniondale en skaars 50 meter verder draai jy weer links op die die Paardepoort Pad. Paardepoort Pas loop deur ‘n nou nekkie langs ‘n stroom. Let op die klip bouwerk van die ou pad anderkant die stroom. Vanaf Paardepoort kies jy koers na Oudtshoorn en dan na Calitzdorp. Hier raak dinge weer interessant – vanuit Calitzdorp neem jy die manjifieke Rooibreg Pas na Van Wyksdorp. Vergaap jou aan die uitsigte oor die Klein Karoo op die Rooiberg Pas. Uit Van Wyksdorp kies jy koers na Herbertsdale en op hierdie pad ry jy af met ‘n asemrowende passie tot by die Gourtisrivier en jy sny ook deur die berg met die Cloetes pas voor jy in Herbertsdale aankom. Kyk uit vir die ou Anglo-Boere oorlog fort in Cloetes Pas. Vanaf Herbertsdale reis jy na Mosselbaai en dan al langs die kus terug na George.

Die totale roete is ongeveer 350km en sal jou die hele dag besig hou. Maak vol in Calitzdorp aangesien Van Wyksdorp en Herbertsdale nie altyd brandstof beskikbaar het nie.

Met Dapper en Stapper.

Daar is ‘n pas tussen George en Herold wat selfs ouer is as die Montagu Pas – die Cradock Pas. Hierdie pas moet egter te voet aangedurf word. Die roete begin ongeveer 3,7km buite George (rigting Oudtshoorn) by die Witfontein bosboustasie (oppad na Montagu Pas). Die roete bied asemrowende uitsigte vanaf die berg oor die hele George area. Plek plek kan ook merke gesien word wat ossewa wiele in die klippe gemaak het soos hulle oor die berg gesukkel het. Die roete is 12,4km lank en ‘n redelike klim so begroot ten minste 5 ure as jy die roete aan durf. Die roete eindig net bo die kruin van Montagu pas en jy sal vervoer moet hê wat jou daar kan kom haal. Moenie jou water vergeet nie!

‘n Grot en ‘n eeu oue wrak.

Lus vir ‘n lekker stap langs die strand? Glentana met sy lang strande is net die plek! Stap mens egter vanaf Glentana se strand in ‘n Oostelike rigting is daar bietjie meer om te sien. Net verby die eerste rotse is ‘n grot waar so paar vlermuise tuis gaan. Die grot is so om en by 50 tree diep en mens moet teen ‘n paar rotse uit klouter om daar te kom. Nog so paar kilometer verder Oos van hier kry mens Glentana se wrak. Hierdie wrak het uitgespoel gedurende ‘n storm in 1902. Dit was ‘n droë dok wat gebruik was om skepe ter see te herstel.

Net ‘n paar wenke as jy hierdie wrak wil besoek:

– Moenie jou kamera vergeet nie.

– Maak seker jy begin stap ‘n uur of wat voor laagwater en kom terug sodra die gety begin draai. Jy wil nie anderkant daai rotse vasgekeer wees gedurende hoogwater nie!

– Die area het volop mossels op die rotse. Hou in gedagte dat jy ‘n aas lisensie nodig het om die mossels te verwyder. So lisensie kan by enige poskantoor gekoop word.

Gaan soek ‘n ou fort!

Tydens die Anglo-Boere oorlog was daar ook aksie in die Suid Kaap. Veral die kommando van Gideon Scheepers het die Britse magte in die Klein Karoo se lewens bitter moeilik gemaak. Soos hy die kolonie dieper en dieper binne gedring het, het verskeie dorpies geskarrel om hul self te verdedig indien die Boeremagte sou opdaag. Knysna was geen uitsondering nie. Hulle het ‘m dorpswag gestig en Standard Bank het selfs hulle boeke per boot na Mosselbaai gestuur vir veilige bewaring. Die NG dominee en ander Afrikaans sprekendes is gearresteer en een aand was die hele dorp in rep en roer toe hulle hoor dat ‘n groep mans na Knysna op pad was vanuit George se rigting. Gewapen tot die tande en gereed moes hulle toe agterkom dat dit net ‘n groep mans van Pacaltsdorp was wat donkies na Knysna aangejaag het.

Aanvalle deur Scheepers in Uniondale en Avontuur was vir die mense van Knysna darem net te naby en in 1901 is bouwerk begin aan ‘n fort op ‘n koppie in Knysna. Die fort was amper ‘n middeleeuse kasteel in die kleine met ‘n hoe muur om die binne gebou en selfs twee torings. Dit wat oor is van die fort is vandag in ‘n geslote beskermde area agter die Provinsiale hospitaal. Toe ons die fort besoek het, het ons toegang tot die area verkry tydens kantoor ure deur mooi by die onderhoud afdeling van die hospitaal te vra.

Knysna en die Fort het nooit aksie gesien nie en daar is later skertsend na die fort verwys as “Thomsons Folly”. Dit is waarskynlik die mees Suidelike fort in Suid Afrika wat dateer uit daai era.

Doen ‘n goeie daad!

Hou ‘n plastiek sak byderhand. Waar ook al jy heen ry, stap of waar jy stop, gooi enige rondlê rommel in die sak en los die plek skoner as toe jy daar aan gekom het. Dis iets klein wat, as almal dit doen, ‘n groot verskil kan maak. Doen jou deeltjie en kom ons hou die Tuin roete skoon!

Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Oorspronklike artikel was in Ultimate Lifestyle Ed.3