Garden Route NEWS

Hyundai Staria Camper

Alles! Tot die kombuis-wasbak. Dit is wat die nuwe Hyundai Staria Camper jou bied.

Tydens die Covid inperking was verwag dat die ekonomie baie seer sou kry en dat produkte, wat as luukses gesien kan word, die meeste daaronder sou ly. Dit was nie verkeerd nie, maar twee industrië spesifiek het onverwags die hoogte in geskiet. Motorfietse en Motorwoonwaens. Na die grendeltyd wou mense net uitkom. Tik in #vanlife op Instagram of Youtube en staan verbaas oor hoe groot die beweging regtig is.

In 2021 het Hyundai die futuristiese Staria bekend gestel. Dis ‘n uitgebreide model-reeks met alles van ‘n luukse bus tot ‘n paneelwa. Dit is dus natuurlik met die ontploffing in #vanlife dat die opsie van ‘n motorwoonwa ook ondersoek is. Die enigste kompetisie in die segment is die VW California en die luukse Staria verkoop vir heelwat goedkoper as die luukse Caravelle. So is die Staria Camper is gebore.

Die 2023 Hyundai Staria Lounge Camper, as hy by sy doopname genoem word, bied sit- en slaap plek vir 4 mense. Die agtersitplek vou plat om ‘n bed te vorm en die dak vou elektronies op sodat mens regop in die bussie kan staan. Vanaand met slaaptyd vou ‘n basis in die voudak af, wat slaapplek bied vir nog twee kleiner mense of kinders. Daar is ‘n 36-liter yskas, ‘n stort en ja, ook ‘n wasbak! Water word aanboord voorsien met die Staria wat toegerus is met twee tenks van 40L en 70L. ‘n Oulike tafel kan agter uit vou vir daai piekniek langs die water en as jy bekommerd is of die battery gaan hou, die Camper kan ook aan ‘n eksterne kragbron gekoppel word. As ESKOM werk.

Daar is twee enjin keuses. Die 2,2L 4-silinder turbodiesel wat reeds hier in ander modelle diens doen, en ‘n 3,5L V6 petrol enjin. Ons het navraag gedoen by Stanley Anderson van Hyundai SA of die Staria Camper ook na Suid Afrika sal kom. Die antwoord was dat Hyundai SA wel ondersoek instel na die vraag in die plaaslike mark, maar of die model wel vir ons bestem is, is nog nie bevestig nie. So die beste ding wat jy kan doen, as jy belangstel, is om navraag te doen oor die Staria Camper by jou naaste Hyundai agentskap. As daar ‘n mark is, sal hy kom.

Exit mobile version